Ervare roeier tem magtige Elands
Die Laeveld Kanoklub se Roger Mortlock het die magtige Elandsrivier getem met 'n oorwinning van byna ses minute in die Sappi Elands 3338-kanowedvaart wat die afgelope naweek plaasgevind het.

Die 28-jarige het in 01:41:59 die 23-kilometerroete voltooi. Anton Fatti van Dabulamanzi in Johannesburg, het in 01:47:53 in die tweede plek klaargemaak.
Die wedvaart, ter na gedagtenis aan Laetitia Scheepers wat gedurende ‘n oefensessie haar lewe op dieselfde rivier in 2009 verloor het, het vir die sesde agtereenvolgende jaar plaasgevind.
Altesaam 83 ervare roeiers het Saterdag aan die Dusi-kwalifiserings-resies deelgeneem met Dewiko Loots, óók van die plaaslike klub wat die
o/18-afdeling in 02:05:43 gewen het.
Die watervlak van 7,4 kumek het ongelukkig heelwat gedaal en was nie vir die sensasiesoekers nie. Die LKK se Eric Dixon het na afloop van die wedvaart gesê dat dié een van die mees gewildste riviere in die provinsie is. “Die rivier het ‘n paar tegniese aspekte en kan baie uitdagend wees. Sappi speel jaarliks ‘n groot rol om die wedvaart aan te bied. Maureen Nkosi, Charl de Kock en hul span het vanjaar weer ‘n fantastiese dag aangebied.”
