Meer binnebande dobber die rivier af
Die Rotary Club is trots om te sê dat die oudste deelnemer, 65-jarige Jeanette Swart van Pretoria as 'n ware pluimpie vir die veiligheid van die byeenkoms beskou is.
Die bywoningsyfer van die 40ste herdenking van die Sabie Tube Race het Saterdag selfs die organiseerders beïndruk.
Met meer as 1 700 mense aanwesig, is dit van die eerste oogopslag duidelik dat diegene sonder hul eie binneband, as’t ware aan die agterste speen sou suig. Maar nie dit óf die onverwagse stortreën wat elke nou en dan uitgesak het, kon die deelnemers afskrik nie. In vergelyking met verlede jaar, was daar ‘n volle 500 deelnemers meer.
“Ons het glad nie verwag dat só baie mense die byeenkoms sou bywoon nie, daarom sal ons volgende jaar, om voort te bou op die sukses, sorg vir meer binnebande. Ons wil ook vir 2016 voorsiening maak vir meer vragmotors om die deelnemers heen en weer te karwei,” sê Morné Roodt, een van die organiseerders.
Die Rotary Club is trots om te sê dat die oudste deelnemer, 65-jarige Jeanette Swart van Pretoria as ‘n ware pluimpie vir die veiligheid van die byeenkoms beskou is.
Dié resies is een van die drie items wat sy op haar sogenaamde “bucket list” het. “Soos wat my kleinkinders sê, dit was nou regtig awesome.”
Sy het ook reeds die Big Rush Big Swing by Moses Mabhida Stadium agter die rug en volgende op die lys is reksprong.
Sy sê dat sy beslis volgende jaar terug sal wees vir 2016 se resies. “Almal het my so mooi opgepas en ek waardeer elkeen se vriendelikheid,” het sy aan Laevelder vertel.
Deelnemers het van die Kaap, Natal en die Vrystaat gereis om die dag op die rivier te geniet. Daar was selfs deelnemers van die VSA.
Bo en behalwe die feit dat sommiges behandeling moes ontvang nadat hul liggaamstemperatuur drasties as gevolg van die koue water gedaal het, en ‘n paar skrape en snye, was die byeenkoms ‘n reusesukses.
