Jong held dra groen-en-goud
'n Boorling van die Laeveld is eersdaags op pad na die Junior Wêreldbinnenshuise Krieketreeks in Brisbane, Australië waar hy die o/18's gaan aanvoer.

Ruben de Lange (16) mag dalk ‘n jongman van min woorde wees, maar hy vertel dat as hy eers deur die net klim, is hy ‘n ander mens. “Selfs my ouers vra wie is hierdie seun as ek eers op die baan is. Ek motiveer die span en praat met die manne gedurende die wedstryde. Ek glo ek is ‘n goeie leier.”
Tydens verlede jaar se interprovinsiale toernooi is ‘n oefengroep van 20 spelers geïdentifiseer. Na afloop van die proewe, is Ruben se naam uitgelees. Dit het sy wildste drome oortref. “Ek het nooit gedink ek sal my land verteenwoordig nie en nog minder dat ek as kaptein gekies gaan word, maar dit is ‘n lekker gevoel.”
Hy het die Suid-Afrikaanse span in vyf toetse teen Nieu-Seeland reeds in gr. 7 verteenwoordig waarvan die span drie gewen en twee verloor het. Twee jaar later het hy weer vir die groen-en-goud in die wêreldbekertoernooi gespeel wat in Fourways, Johannesburg plaasgevind het. Hiér het hy vir die eerste keer die Suid-Afrikaanse baadjie aangetrek. “Ek was trots op myself. Ek het daardie jaar ook ‘n All Stars-toekenning ontvang as een van die top-10 beste spelers van die toernooi.”
Waar kom sy liefde vir krieket vandaan? “My nefie, die Protea-speler Marchant de Lange, is my held en hy het my altyd gemotiveer om dié sport van kleins af te beoefen.”
Hy is ook deel van Hoërskool Nelspruit se eerste krieketspan wat die afgelope naweek die T20-beker omhoog gehou het. Die 16-jarige het ‘n buitengewone talent in albei formate van die spel. “Die twee komplimenteer mekaar en binnenshuise krieket help met oogkoördinasie en spoed.”
Wanneer hy nie op die krieketveld is nie, speel hy graag hokkie waarvoor hy Ehlanzeni-kleure verwerf het.
