Local sportSport

Karatekas verdien heelwat medaljes by Lowveld Shotokan

Met krete en vinnige passies het karatekas van Hazyview, Skukuza, Witrivier en Mbombela tydens die Lowveld Shotokan Karate se streekskompetisie op 28 Februarie kragte gemeet.

Vyf-en-tagtig deelnemers van die verskillende Laeveld dojos het in hul onderskeie afdelings in die Kiepersol Boeresaal om medaljes meegeding.

Deelnemers het eers ‘n kata uitgevoer: ‘n reeks bewegings wat aan leerlinge geleer word sodat hulle tegnieke korrek uitvoer. Hulle is daarna deur vyf beamptes beoordeel voordat hulle aan skermgevegte deelgeneem het. Hier is ‘n puntestelsel gebruik om die wenners te bepaal.

Die beste vegters van elke ouderdoms- of gordelgroep het medaljes vir onderskeidelik die kata en skermgevegte ontvang.

Organiseerder Sandra Jansen van Vuuren meen dat die deelnemers goed vertoon het, veral in die lig van die feit dat daar kinders was wat nog net ‘n paar klasse gehad het. Deelnemers word gewoonlik net in ouderdomme ingedeel, maar omdat daar baie beginners was, is hulle ook volgens gordels ingedeel.

Die streekskompetisie is deur Hazyview Dojo gereël en Jansen van Vuuren sê dat niks sonder die ouers moontlik sou wees nie. “Hulle ry ver en spandeer lang ure om hulle kinders te ondersteun.”

Die ouers het handjie bygesit deur water, ys en koeldranke by te dra, Bridgette Lavery het met die noodhulptassie bygestaan, Pause Span en Sanbonani het kos gegee en Eldrie Boerdery en The Hair Studio het vir medaljes gesorg.

Die algehele wenner van die kompetisie was die Witrivier dojo, wat met een punt geseëvier het. Van Vuuren sê dat die kompetisie as ‘n goeie maatstaf gedien het vir hul volgende kompetisie teen die Gauteng-streek, wat op 21 Februarie by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier plaasvind.

Vir navrae besoek gerus die Lowveld Shotokan Karate facebook-blad of skakel Jansen van Vuuren by 082-530-3396.

Kyk na ‘n foto gallery van die karate hier en ‘n video van die deelnemers hier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button