Nuwe roete toets hardlopers se uithouvermoë
Dit het 'n nuwe roete beslaan, in en om Bateleur Landgoed en hoewel dit pragtige uitsigte gebied het, was dit 'n uitdagende wedloop.
Die sesde Bateleur-herdenkingswedloop en -halfmaraton (Bateleur Memorial Run) het Saterdag behoorlik die hardlopers se uithouvermoë getoets en talle het dit as uitmergelend beskryf.
Dit het ‘n nuwe roete beslaan, in en om Bateleur Landgoed en alhoewel dit pragtige uitsigte gebied het, was dit ‘n baie uitdagende wedloop met verskeie steil op- en afdraendes. Bateleur Landgoed bied jaarliks hierdie wedloop aan in samewerking met Nedbank LVCC, ter herinnering aan atlete se vriende en familie wat heengegaan het. Die wedloop bestaan uit ‘n vier-, 10-, en 21,1-kilometerroete. ‘n Herdenkingsmuur word opgerig waar atlete ‘n foto van hulle oorlede geliefde kan opsit.
Ongeveer 720 atlete het hierdie jaar deelgeneem. Groot gedeeltes van die 10- en 21,1-kilometerroetes bestaan uit grondpad, of die sogenaamde “jeep track” en sodoende kan atlete meer van die natuur waardeer, wat die swoeg en sweet die moeite werd maak. Die wedloop groei elke jaar en is besig om een van die gunstelinge op die hardloopkalender te word.
Die vier-kilometerroete het binne Bateleur Landgoed se grense geloop deur die reeds gevestigde fase een en nuwe gedeelte van fase twee en is geniet deur oud en jonk. ‘n Lid van LVCC wat die tien-kilometerwedloop aangedurf het, sê sy het gehoor ander atlete vergelyk dit met Polly Shortts, een van die Comrades se mees uitdagende opdraendes. “Ek het oorweeg om my eerste half-maraton te doen, maar ek is baie bly ek het nie.”
Sommige atlete wat te vinnig begin en die eerste opdraende onderskat het, moes al na die eerste twee kilometer stap om asem te skep, maar goed bemande waterpunte en lipleklekker boereworsrolle by die eindpunt en die styfheid en seer spiere was vergete.
Atlete kan na nog ‘n heerlike wedloop in 2016 uitsien.
Die wenners is soos volg:
Mans
10 kilometer
• F Sehohle – Nedbank LVCC, 33 minute, vier sekondes
• W Mothosoko – Nedbank LVCC, 33:37
• T Mashaba – Run/Walk for Life, 37:08.
21 kilometer
• A Mashaba – Born to Win, een uur, 10 minute
• N Maseko – Nedbank LVCC, 1:10
• L Hlatshwayo – Nedbank LVCC, 1:19.
Vroue
10 kilometer
• N Dlamini – Nedbank LVCC, 42 minute, 42 sekondes
• H Basson – Nedbank LVCC, 51:43
• M Venter – Nedbank LVCC, 51:44.
21 kilometer
• N Sibanda – een uur, 37 minute
• Allison Hay – Nelspruit MC, 1:42
• M Whitehair – Nelspruit MC, 1:49.
