Pumas stuit die Bulle in hul spore
Die Steval Pumas het hul derde agtereenvolgende 50-tal in die Vodamcom-bekerreeks die afgelope naweek teen die Assupol Limpopo Blou Bulle in Secunda aangeteken.

Alhoewel die wedstryd in die 57ste minuut weens ongunstige weeromstandighede gestaak is, het die besoekers met 52-0 gewen.
Met die span se eerste wedstryd teen die Down Touch Griffons het die Pumas 57-18 gewen. Daarna het hulle ook die FNB Welwitschias met 61-7 geklop.
“Ons is heel tevrede. Ons het ons teenstanders vinnig onder druk geplaas en goeie konserwatiewe rugby gespeel. Ons wou ons vyf punte en bonuspunt teruggebring het huis toe en ons het dit reggekry,” het die afrigter van die Pumas, MJ Mentz gesê.
Twee drieë elk is deur die voorspeler Marnus Schoeman en die vleuel Ruwellyn Isbell in die eerste helfte aangeteken.
Die losskakel JC Roos, wat in sy 50ste wedstryd vir die Pumas uitgedraf het, is tans die top-puntemaker in die reeks met
34 punte. Die senter, Hennie Skorbinski het sy neus gebreek en moet Vrydag ‘n operasie ondergaan waarna hy tot vier weke buite aksie kan wees.
Die enigste ander terugslae is die agterspeler Dewald Pretorius wat ‘n paar steke in sy gesig moes kry, maar hy sal steeds kan oefen, en die haker Franke Herne wat ‘n ribbesering opgedoen het en tot twee weke langs die kantlyn sal wees.
Die Laevelders speel die komende naweek teen die Vodacom Blue Bulls op Loftus Versveld. Die wedstryd begin om 15:00.
