Steval Pumas gaan Bulle met goeie momentum aanpak
"Enige wegwedstryd is vir ons baie belangrik. Die Bulle op Loftus is altyd 'n moeilike taak maar 'n wen sal vir ons 'n goeie sielkundige voorsprong gee aangesien ons hulle moontlik in die kompetisie kan speel.

Die Steval Pumas wil hierdie naweek voortbou op hul goeie vertonings in die vorige drie wedstryde van die Vodacombeker wanneer hulle teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld te staan kom.
Die Pienktruie beklee tans die eerste posisie in die punteleer met 15 punte, terwyl die Bulle met 10 punte in die derde plek lê.
Die Blou Bulle het hulle vorige wedstryd teen die Goue Leeus 24-14 verloor en sal hul tuisskare iets wil gee om oor te juig, terwyl die Pumas alles in hulle vermoë sal wil doen om ‘n belangrike wegwedstryd te wen.
“Die feit dat ons in al drie wedstryde bonuspunte gekry het en al ons kombinasies kon uitprobeer het, is ‘n groot pluspunt. Ons gaan hierdie naweek ons man moet staan en alles moet gee om hierdie wedstryd te wen,” het MJ Mentz, breier van die Pumas gesê.
Mentz vertel: “Enige wegwedstryd is vir ons baie belangrik. Die Bulle op Loftus is altyd ‘n moeilike taak maar ‘n wen sal vir ons ‘n goeie sielkundige voorsprong gee aangesien ons hulle moontlik in die kompetisie kan speel. “Ek dink dit gaan ‘n interessante 80 minute wees.”
Die Pumas het ook nege veranderinge aangebring sedert hulle die Assupol Limpopo Blou Bule 52-0 verlede naweek geklop het. Eduan van der Walt keer terug as kaptein met Justin van Staden wat die skopwerk vir die Pumas gaan doen. Die voormalige Blou Bul, Stefan Watermeyer gaan ook op binnesenter ‘n groot aanwins in die aanval wees.
Volgens Mentz is daar genoeg diepte in sy losvoorspelers met Brian Shabangu, Lambert Groenewald en Jason-Colin Fraser wat hul sover die seisoen goed van hul taak gekwyt het.
“Brian speel baie goeie rugby terwyl Lambert vir ons ‘n baie belangrike baldraer is. Hulle komplimneteer mekaar goed.”
Nog ‘n aspek wat belowend vir die Pumas is, is die gemak waarmee stutte Khwezi Mona en De-Jay Terblanche op beide vaskop en loskop kan speel.
“Kwezi en De-Jay kan los- en vaskopposisies speel en dit maak dit vir ons in ‘n bevoorregte posisie. Ons voel die voorry wat hierdie naweek begin is ons sterkste skrumvoorry met Drew van Coller op vaskop. Ons weet die Bulle het ‘n sterk skrum so ons sal ons man moet staan,” het die afrigter gesê.
Mentz het ook genoem dat die Bulle ‘n sekere strategie volg en gewoonlik harde en fisiese rugby speel. “Ons sal reg daarvoor moet wees en aggressief verdedig. Die maklikste is om jou wedstrydplan op hulle af te forseer en seker te maak om genoeg balbesit te hou sodat ons nie gedurig teen hul groter spelers moet verdedig nie.”
Die wedstryd skop om 16:30 af.
Steval Pumas:
1. Khwezi Mona
2. Jacques Momberg
3. Drew van Coller
4. Rudi Mathee
5. Eduan van der Walt (Kaptein)
6. Brian Shabangu
7. Lambert Groenewald
8. Jason-Colin Fraser
9. Reynier van Rooyen
10. Justin van Staden
11. Marcello Sampson
12. Stefan Watermeyer
13. Wilmaure Louw
14. Bernado Botha
15. JW Bell
16. Francois du Toit
17. De-Jay Terblanche
18. Uzair Cassiem
19. Marnus Schoeman
20. Sinovuyo Nyoka
21. JC Roos
22. Jerome Pretorius.
