Bergfietskoningin trots op prestasie
"Is ek gelukkig met my eerste plek? Beslis! Ek is in ekstase!"

So sê Samantha Sanders, die bergfietskoningin van die 62-kilometer Sappi Mankele MTB-uitdaging wat die afgelope naweek plaasgevind het. Sy het die uitmergelende roete in 03:12:20 voltooi.
“Ek het sleg begin. Ek het ver agter geraak met die eerste klim, maar my energie het ingeskop en so het ek vir Amy-Beth McDougal (wat tweede geeïndig het) opgevang wat met ‘n pap band gesukkel het. Later het ek ook Wilmarie du Plessis ingehaal en die voorsprong geneem,” vertel die 31-jarige Sanders.
JP Jung, wat tweede in die mans-afdeling met ‘n tyd van 02:37:14 klaargemaak het, net na Brand du Plessis wat die eerste plek op die podium ingeneem het, het na afloop van die wedren gesê dat hy ietwat teleurgesteld is. “Ek het vir myself gesê, Brandt is baie sterk en hy het verdien om te wen.”
Met ‘n tyd van 02:40:20, was Hennie Kriek in die derde plek. “Dit was ‘n lekker wedren met strawwe kompetisie.”
Die Sappi Mankele MTB staan bekend as een van die Laeveld se taaiste roetes. Volgens Sappi se algemene bestuurder, Duane Roothman is dit wat die roete iets besonders maak.
“Ons is tevrede met die aantal inskrywings wat ons gehad het en dit was die perfekte bergfietsweer.”
Mark Meyer van Mankele sê dat daar geen ernstige voorvalle op die dag was nie.
Vir die groentjies, selfs dié wat nog met hulp-wielietjies ry, was daar ‘n pretrit van 2,5 kilometer. Selfs dié joernalis het op ‘n stadium meer gestoot as foto’s geneem.
