Honderde atlete durf wedloop in die mis aan
Meer as 950 deelnemers het Saterdagoggend die gewilde York Longtom Ultramarathon aangedurf.

Drawwers en motoriste moes mekaar mooi ontwyk op die Longtom- Pas Saterdagoggend. Dit was besonder mistig op die Sabie/Lydenburg-pad, York Longtom Ultramarathon-roete. Die organiseerders sê meer as 950 deelnemers het vanjaar die gewilde marathon aangedurf.
By die waterpunte kon die helpers hoor dat die voorste hardloper op pad was aan die getoet van die veiligheidsvoertuig, maar vir ‘n lang ruk was geen mens sigbaar nie. Die figure was al amper by die waterpunt voordat hulle eers sigbaar geword het.
Baie drawwers het dit ook vir pret aangedurf en vreemde hoede gedra en in pare al geselsend gedraf. Die waterpuntbemanning het wel tot die goeie gees bygedra met hul aanbieding van, “Water, Coke, banana?”
Deelnemers het in Sabie by York se kantore weggespring en die pas aangedurf. Dit was hoofsaaklik opdraande, maar toe hulle kon omdraai in die middel van die resies was beweging bietjie makliker.
Eskom Altetiekklub Mpumalanga het die tyd vir die Comrades-kwalifiseerder gehou. Deelnemers moes hiervolgens die 42,2-kilometer binne vyf uur voltooi en die 55-kilometer binne sewe uur.
Uitslae
Ope-kategoriewenners
55km vroue – Nocawe Morake 4:50:70
55km mans – Leboka Noto 3:32:22
42,2km vroue – Christelle du Plessis 3:37:40
42,2km mans – Lesenyane Thapelo 2:48:03
21km vroue – Carlien Cilliers 1:38:00
21km mans – Tebogo Pelusa 1:11:10.
- Sien meer foto’s hier.
