Speler wys haar slag tussen die bestes
Een van die Laeveld se mees belowende vroue gholfspelers, Monja Richards het aan die begin van die jaar aan haar eerste professionele toernooi deelgeneem.

Die huidige Limpopo-kampioenskapwenner het in net twee maande reeds sewe toernooie agter die rug en is eersdaags na Europa op pad om daar vir haar toerkaart te kompeteer. “Ek gaan ‘n maand afvat om voor te berei en dan sal ek tien teen een aan die einde van Mei/Junie vertrek. Die toer duur sowat vier maande waar ek in 10 toernooie wil speel.”
Die eerste deel van die jaar het sy aan die Sunshine-toernooi deelgeneem waar sy baie goed begin het. Sy het met die Sun International Ladies Challenge op die pragtige Lost City-gholfbaan in Sun City met twee houe voorgeloop, maar op die 12de ‘n driedubbele hou gespeel en op die einde met twee houe verloor. Die 27-jarige het derde geëindig.
Haar laaste deelname aan ‘n Suid-Afrikaanse toernooi, was die Investec-beker op die Pretoria Buitebaan waar sy onder baie druk gespeel het. “Uit die sewe toernooie het hulle die top-10 spelers gekies wat vir die Investec-beker kon kwalifiseer.
My doelwit was om deel van hulle te wees en ek het dit reggekry. Ek het soveel ervaring opgedoen in die reeks.”
Sy het ‘n sewende plek verower met rondes van 74, 79 en 73.
