Karpe by Klipkopje maar traag om te byt
Dit het meer as 17 uur geduur voor die eerste karp by die afgelope naweek se Wuttis-uitnodigingkompetisie by Klipkopjedam ingeweeg is.

‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Karpvereniging, Piet Botha het teen Saterdag 08:40 die eerste pragvis van 16,42 kilogram gevang. Slegs drie karpe is teen Sondag ingeweeg. Adriaan Büsser het die tweede pragvis van 14,89 kilogram net voor middagete ingeweeg en toe tref ‘n visdroogte die manne.
‘n Totaal van 12 spanne het vir die kompetisie ingeskryf wat Vrydag om 15:00 afgeskop het. “Dit was ‘n tawwe kompetisie omdat dit nou maar die begin van die seisoen is. Die karpe begin nou eers voer en Klipkopje is ‘n baie moeilike dam om karp te kry,” vertel een van die deelnemers wat ‘n droewige naweek gehad het, TJ Maré.
Kort voor die eindfluitjie Sondag geblaas het, het Pieter Oosthuizen met die laaste karp van 7,85 kilogram gespog.
“Alhoewel ons nie baie karp gevang het nie, was die naweek steeds ‘n reusesukses met trofee-karpe wat die manne ingeweeg het. Alle karpe is volgens regulasie medies behandel en weer vrygelaat,” verduidelik Maré verder. Elke deelnemer het met ‘n geskenkpakkie van K-karp weggestap.
Diegene wat in die karpfasset van hengel belangstel, kan Maré by 082-772-6396 skakel.
