Slimkoppe toets hul skuiwe teen die bestes
Twee spelers van Ehlanzeni Skaak Mpumalanga, Suné du Preez en Liam Pringle stamp tans koppe teen van die bestes in die land.

Die Suid-Afrikaanse Geslote Junior Skaaktoernooi wat vanjaar deur Gauteng aangebied word, het reeds Saterdag by Hoërskool Waterkloof in Pretoria begin. Die eerste van 11 rondes het vroeg die oggend begin. Na afloop van die laaste ronde, wat môre plaasvind, word die nasionale span aangekondig.
Suné is net 11 jaar oud en was in 2014 vierde op die Suid-Afrikaanse skaakranglys vir dogters o/10 en 53ste in die wêreld. Sy is ‘n leerling van Laerskool Lydenburg en het by verlede jaar se Wêreld Jeug Skaakkampioenskappe in Durban deelgeneem. Suné was ook die enigste speler van die Laeveld wat gekies was om September by die Internasionale Konferensiesaal te speel.

Laerskool Bergland se Liam is as sy skool se beste o/7-skaakseun van 2014 aangewys. Die knapie het tydens verlede jaar se AGE-toernooi, en in die eerste ope skaaktoernooi wat in Sabie plaasgevind het, goed presteer.
Sterkte julle twee slimkoppies!
Die eerste plaaslike toernooi vanjaar vind 18 April by Curro plaas. Rig enige navrae aan ehlanzenichess@gmail.com
