Atlete skitter in Stellenbosch
Die 17-jarige atleet, Justin Smit het sy litte behoorlik gedurende die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskappe geroer.
Nie net het hy eerste sy kop bo die water uitgesteek nie, maar as gevolg van sy blitsvinnige tye, het hy ook die victor ludorum-trofee verower.
“Ek het vantevore ook die kampioenskappe gewen. Ek het geweet ek het die oefening ingesit om weer ‘n goud om my nek te hang, maar ek het nie geweet wat om te verwag nie,” vertel Justin.
Die 40ste jaarlikse byeenkoms het in Stellenbosch op die Coetzenberg Stadion plaasgevind waar ‘n paar plaaslike atlete in aksie was. Biggs, Asher en Selanna het óók puik gevaar. Asher het ‘n algehele agtste plek uit 43 deelnemers verower. Hy het 06:02,13 in die 2 000-meter gehardloop en met 01:08,99 die 100-meterswem voltooi.
Selanna het ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 03:17,99 in die 1 000-meter gehardloop. Sy het die laaste deel van die wedloop, in 01:17,88 voltooi en ‘n algehele 11de plek uit 52 dogters behaal.
Die tweeling, Jeanne en Mignon Joubert, het soos oudergewoonte nie teleurgestel nie. Jeanne het net-net ‘n plek op die podium misgeloop en vierde in die dogters o/15 geëindig. Sy het ‘n tyd van 03:17,68 gehardloop en 01:06, 27 geswem. Haar tweelingsuster, Mignon het ‘n 23ste plek ingeneem en 03:28,53 gehardloop en 01:15,66 geswem. Die jongste deelnemer uit die Laeveld, Kian Mouton (11), het ‘n algehele 28ste plek behaal. Sy tyd met sy hardloopskoene was 02:42,13 en hy het in 42,28 uit die water geklim.
Mpumalanga het negende uit 15 spanne geëindig met die Westelike Provinsie wat as wenners uit die stryd getree het.
