
Die J&M Sekuriteit Laerskool Witrivier Rugbyweek het onlangs plaasgevind met Laerskool Constantia Park wat groot opspraak verwek het.
Dié skool van Pretoria het met hul laaste wedstryd Nelspruit met 41-0 geklop. Die besoekers se tweede span het vroeg Saterdagoggend Witrivier met 40-0 laat les opsê. Die gasheerskool se eerste span het die toernooi op ‘n hoogtepunt begin deur Baanbreker met 17-10 te klop. Die tweede span het ongelukkig daarna teen Lynnwood klippe gekou en 32-0 verloor.
Op die tweede dag van die kompetisie het Wierdapark se o/11 A-span met 48-5 teenoor Witrivier koning gekraai.
Nellies 1 het gelukkig met twee punte teen President Steyn gewen met die eindtelling 21-19.
Laerskool Bergland se tweede span en o/11’s het ook na Witrivier getoer. Tussen die spanne kon elk net een wedstryd wen. Die o/11’s het Wonderboom se B-span 22-10 gewen en die tweede spannetjie het Witrivier ore aangesit met 17-0.
