Jong spelers skuif vooruit
Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaaktoernooi het die afgelope week by Hoërskool Waterkloof in Pretoria plaasgevind.

Drie spelers van die Laeveld, Joshua Minifie, Suné du Preez en Liam Pringle, het aan vanjaar se toernooi, wat as die grootste in die geskiedenis beskou word, deelgeneem.
Dit vind jaarliks plaas om die topspelers in die onderskeie ouderdomsgroepe vir seuns en dogters te bepaal. Spelers neem in afdelings van o/8 tot o/20 deel en daar was vanjaar altesaam 267 slimkoppe.
Die spelers gaan dan later vanjaar aan die Wêreld Jeugkampioenskappe in Halkidiki, Griekeland asook die Afrika Jeug- kampioenskappe in Livingstone, Zambië deelneem.
Suid-Afrika stuur ook spelers na die Statebondspele in New Delhi, Indië.
Die land se voorste o/16-spelers gaan ook aan die Olimpiade in Ulaanbaatar, Mongolia deelneem.
Die toernooi het uit elf rondes bestaan met twee rondes per dag. Spel kan tot vyf uur duur. Vrydag was daar net een ronde en dan uitspeelwedstryde waar nodig.
Die toernooi is Vrydagaand met die prysuitdeling en die bekendmaking van die wenners afgesluit.
Só het die spelers gevaar
• Joshua Minifie het in seuns o/16 gespeel. Hy het 22ste geëindig met 4,5 punte uit 11
• Suné du Preez kom in dogters o/12 in die 21ste plek. Sy kry 5 uit 11
• Liam Pringle kom in seuns o/8 in die 22ste plek. Hy kry 2,5 uit 11.
