Klub se stoeier reg om kragte te meet in Egipte
Nie net vloei die Nyl die verste van alle riviere op aarde, nagenoeg 6 700 kilometer nie, maar talle stoeiers gaan eersdaags na Egipte vir die Afrika Kampioenskappe stroom.

Johny Smit van die Nelspruit Stoeiklub (NSK) het tydens die nasionale proewe wat in Secunda plaasgevind het, vir die toernooi gekwalifiseer.
Hy het ‘n tweede plek in Grieks-Romeins verower. Alhoewel net die eersteplekke die kans kry om Egipte toe te gaan, het sy teëstander Zander Coetzee vir twee style deurgedring. “Op die Afrika Kampioenskappe kan ‘n stoeier aan net een styl deelneem.
Zander het die vrystyl óók gewen en moes kies waar hy sy land wil verteenwoordig. Die atlete kry hier die kans om onder die eerste drie in Afrika te eindig, en dan vir die wêreldkampioenskappe wat in Brasilië plaasvind, te kompeteer,” verduidelik die afrigter van die klub, Hansie Kruger.
Faantjie Steyn van NSK het in albei style ‘n bronsmedalje verower en Neels Smit twee vierde plekke.
Kruger is gekies om die nasionale span na Alexandrea te vergesel.
Nóg ‘n prestasie waaroor die klub breëbors rondloop, is Jannie Beukes se moontlike insluiting in die wêreldspan wat in Oktober na Griekeland reis. Hy het aan die SA Presidente en Meesterskampioen-skappe deelgeneem, waar hy goud verower het. Faantjie, Johny en Neels het almal bronsmedaljes gewen. “Die Presidente beteken dat die manne volgens hul gewig en nie hul ouderdom nie, stoei. Die drie het teen jong seuns so oud as 20 jaar gestoei wat dit sowaar ‘n besonderse prestasie maak,” sê die mediabestuurder van die klub, Anita Steyn.

