Een sprong weg van plek na Colombië
Die verspringheld, Maudas Banda het 'n vierde plek by die Afrika-spele in Mauritius losgespring.
Hy was deel van die SA Skolespan.
Hy het sy persoonlike beste afstand van 7,37 meter met 19 sentimeter gemis en moes met 7,18 meter tevrede wees.
Die leerder van Hoërskool Bergvlam gaan op 8 en 9 Mei aan die Suid-Afrikaanse ope kampioenskappe in Tlokwe deelneem, waar hy moontlik vir die Internasionale Atletiek- federasie se Wêreld Jeugkampioenskappe-span in Cali, Colombië ingesluit kan word.
Die 17-jarige het vanjaar ‘n eerste plek by die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe verower.
Maudas was verlede jaar ook by die o/20- Jeugspele.
‘n Jaar terug het hy nog die maatband 7,33 meter laat rek, en sedert die begin van die 2015-atletiekseisoen het hy heelwat verbeter.
Die mees onlangse toernooi waaraan hy deelgeneem het, die Suid-Afrikaanse Junior Atletiekkampioenskap het vir hom ook ‘n goue medalje in die sak gebring. Hy het verlede jaar in die junior kampioenskappe ook met ‘n goud om sy nek gespog.
Maudas is die enigste atleet van Mpumalanga wat verlede week na die buurstaat vertrek het. Teen druktyd was die ysteratleet nog op pad terug na die Laeveld en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
