Pumas mik nou vir beter vertoning in Kwarteindronde
Die Steval Pumas gaan nou 'n blaaskans van twee weke kry voordat hulle op 15 Mei in die kwarteindronde weer op die veld moet draf.
Die Steval Pumas se voorspelers het Vrydagaand teen die Hino Valke op Mbombela Stadion geswoeg en gesweet om die knoop in ‘n 28-22 oorwinning deur te hak.
Die voorry van Sabelo Nhlapo, Simon Westraadt en Khwezi Mona kon nie teen die Valke se voorry in die skrums hond haaraf maak nie. Andries Schutte, Dean Muir en Thulani Ngidi het uitstekende druk op die Pumas se voorry geplaas en menigmaal gemaklik die eerste fase van hul aanval begin.
Die tuisspan is met ‘n agterstand van twee punte terug kleedkamer toe en dit is iets wat die spelers se wind vir ‘n rukkie uit hul seile gehaal het.
In die tweede helfte het dit gelyk of ‘n paar streng woorde deur Steval Pumas-afrigter, MJ Mentz, in die kleedkamer gedeel is.
Die Steval Pumas het twee drieë in die eerste 15 minute na rustyd deur JW Bell en Reynier van Rooyen gedruk.
Die Pumas het wel nog ‘n drie toegestaan aan die einde van die wedstryd na die voorry weer nie die mas kon opkom nie. Nietemin het JC Roos se bestendige skopskoen met twee verdoelings en drie strafskoppe die Pumas oor die wenstreep gebring.
“Ek is baie verlig dat ons die wedstryd gewen het. Weereens het ons onsself onder baie druk geplaas deur nie geleenthede in die eerste helfte te gebruik nie,” het Mentz na die wedstryd genoem.
“Die Valke het baie goed geskrum en ons sal moet werk aan ons dissipline by die skrum,” het hy gestaaf.
“Op hierdie stadium is dit belangrik dat ons in die kwarteindronde is en ons spelers gereedmaak vir daardie kragmeting weg van ons tuisskare af,” het Mentz gesê.
Die Valke se ervare afrigter, Rudy Joubert, het ‘n meer teleurgestelde deuntjie gesing na die afloop van die wedstryd en glo dat sy span verdien het om te wen.
“Ons het goed gedoen in ons skrums en lynstane en baie druk op die Pumas geplaas. Ons het ook onnodig twee sagte drieë weggegee, maar alle krediet aan die Pumas met hul dissipline in die laaste paar minute.”
“Ek is baie trots op ons voorspelers na vanaand se wedstryd.” In die Pumas-kamp bestaan kommer oor Frikkie Spies se kniebesering nadat hy in die eerste helfte die veld Vrydag moes verlaat.
Die Steval Pumas gaan nou ‘n blaaskans van twee weke kry voordat hulle op 15 Mei in die kwarteindronde weer op die veld moet draf.
Daar is ‘n moontlikheid dat die Pumas teen die Vrystaat XV of Griekwas te staan gaan kom, maar dit hang als af van hoe die Suidelike afdeling in die toernooi vaar.



