Geesdrif vir jukskei laat spel voortleef
Jukskei is 'n tradisionele Suid-Afrikaanse spel wat deur die De Jager-gesin se are vloei.

Die 18-jarige Miranda de Jager het as klein dogtertjie altyd gaan kyk as haar oupa en ouma dié sport beoefen en kort voor lank het sy aan haar eerste toernooi deelgeneem. Haar ma was self ‘n gedugte speler op haar dag.
“Ek was net vyf jaar oud toe gooi ek in my eerste kompetisie. Dit is ‘n droom wat ek najaag om eendag net so knap soos die ouer mense te kan gooi.”
Die leerder van Hoërskool Bergvlam het in gr. 4 aan haar eerste Suid-Afrikaanse kampioenskappe, wat jaarliks in Kroonstad plaasvind, deelgeneem. “‘n Span bestaan uit vier lede en ‘n reserwe, en die res van my spanlede was toe al 13 jaar oud. Dit was ‘n groot voorreg om saam met hulle te kan speel omdat hulle op daardie stadium soveel beter as ek was.”
Haar ouma Elma is al vir 32 jaar by dié sport betrokke. “Al vier my dogters het jukskei gespeel en as daar op ‘n troudatum beslis moes word, moes dit nie met ‘n toernooi bots nie,” lag sy.
Sy rig tans die jukskeispan by Vlammies af en dien ook as voorsitter op die Laeveld Jukskeiklub wat wéér in 2014 op die been gebring is.
Miranda wil graag in die toekoms die Suid-Afrikaanse span haal wat jaarliks Amerika toe gaan om daar deel te neem.
Miranda se prestasies in 2015:
• Suid-Afrikaanse Skolekampioen-skappe: Goud in dubbelspel
• SA Junior Jukskei-kampioenskappe: Silwer
• SA A-span: Goud.
Uitdrukkings met die woord “jukskei”
Omdat dit so belangrik vir ons voor-geslagte was, is dit nie verbasend dat hulle vir ons ‘n handvol idiome in ons taal nagelaat het waarin dit voorkom nie. Die idiome word vandag nog selde gebruik, maar dit kan steeds nuttig wees om hulle te ken.
• Jukskei breek – moeilikheid veroorsaak
• ‘n Klein jukskeitjie met ‘n groot kop – ‘n persoon of ‘n ding wat ‘n mens oral kan gebruik
• ‘n Orige jukskei – ‘n nuttelose persoon of ding
• Elkeen staan voor sy eie jukskei – elke mens moet vir homself sorg of sy eie pak dra.
Het die jukskeigogga jou gebyt? Sluit by die klub aan deur vir Elma by 082-455-0476 te skakel.
