NHS se sportsterre maak weer opslae in Tuksreeks
Sedert die ontstaan van die Super-12, deesdae die Tuksreeks, is Hoërskool Nelspruit (NHS) se tennisspanne as algehele wenners gekroon.

Die muurbalspan het ook na 19 jaar dié reeks gewen.
Die eerste span en die o/15’s het hul groepwedstryde oortuigend teen hoërskole Ermelo en Florida gewen om sodoende na die kwarteindstryd deur te dring. Nellies se o/15’s het met Hoërskool HTS Middelburg afgereken om as wenners van hul afdeling aangewys te word terwyl die eerste span hul finale wedstryd teen Hoërskool Marais Viljoen gewen het.
Die muurbalspan het Hoërskool Garsfontein in die eindstryd 12-4 ore aangesit. Slegs vyf stelle is verloor terwyl 82 gedurende die reeks gewen is.
Die rugbyhalfeindstryd tussen hoërskole Nelspruit en Monument was op ‘n mespunt gebalanseer. Die Laevelders was teen rustyd 27-7 agter en het met ‘n reuseterugvegpoging die wedstryd net-net 37-33 verloor. Die drie wat ‘n klop op die skouer verdien, is deur die Rhinos se Eduan Engelbrecht in die 50ste minuut gedruk wat die telling na 34-28, in Monnas se guns, laat krimp het.
EG Jansen van Boksburg sal Saterdag in Pretoria sy titel as kampioen van die reeks verdedig terwyl NHS teen die Garsie Bere te staan sal kom vir posisies drie of vier.
Die landloop het verlede week by Ingwenyama Conference & Sports Resort plaasgevind waar NHS algeheel vierde geëindig het. Die junior seuns en dogters het ‘n derde plek verower, die senior dogters ‘n sewende plek en die senior seuns ‘n sesde posisie.
Die seunshokkie se o/14- en o/16-spanne ding die naweek vir posisies een of twee mee en die eerste span vir drie of vier.
Die skaak het algeheel sewende geëindig en die gholf A1-span was derde.

