Nellies se spiesgooiers presteer
Hoërskool Nelspruit (NHS) spog vir die derde agtereenvolgende jaar met 'n o/15 SA spiesgooikampioen.
“Dit gebeur nie sommer nie. Die skool is baie bevoorreg,” vertel die atletiekspesialis en hoof van die sportburo, DP Badenhorst.
Stefan Smit is vanjaar met sy persoonlike beste afstand van 63,80 meter as die land se beste gekroon. Werner Bouwer, wat nou in gr.11 is, het in 2013 met ‘n reusegooi van 62,38 meter ‘n goue medalje verower. Stephan van der Bank het verlede jaar die tweede atleet geword wat met ‘n kolossale gooi van 66,58 meter ook ‘n medalje ontvang het.

Badenhorst was self ‘n puik spiesgooier. Hy het sewe jaar onder die bekende Terseus Liebenberg, wat onder meer atlete soos Sunette Viljoen en Marius Corbett afrig, geoefen en hy was op ‘n stadium die o/23 SA kampioen. “Die besluit om voltyds af te rig was ook op ‘n manier self vir my geneem met die aantal atlete wat ek gehad het. Ek het ‘n droom gehad om Olimpiese Spele toe te gaan, maar nou het die droom geskuif om een van my atlete te vat.”
Oor die jare as afrigter, sal Badenhorst ‘n atleet soos Déan Goosen van Heidelberg Volkskool uitsonder. “Déan is in 2009 na die IAAF Wêreld Jeugkampioenskappe in Bresanone, Italië en daarna in 2010 na die Wêreldjuniorkampioenskapppe in Moncton, Kanada. Na afloop van die seisoen was
hy 11de in die wêreld met ‘n gooi van 75,28 meter met ‘n 800-gram spies. Die drie seuns van NHS het net soveel talent en is almal go-getters. Werner en albei Stefans gaan nog ver gooi, maar dit is ‘n proses. As hulle dinge doen soos wat hulle dit moet doen, sal hulle maklik oor die 75 meter kan gooi. Ek raak elke keer meer opgewonde as ek sien hoe die seuns as atlete groei.”

Die afrigter spog met IAAF vlak-drie worpe-kwalifikasie en hoop om genomineer te word om die volgende een aan te pak. “Op vlak vier spesialiseer jy in ‘n spesifieke item, maar dit gaan harde werk wees. Jy moet vir ‘n jaar lank ‘n atleet wat jy afrig se programme gereeld na die IAAF stuur, waar hul dit evalueer en dan besluit op grond van die atleet se prestasie by ‘n internasionale byeenkoms of die program sukselvol was al dan nie, voordat die kwalifikasie toegeken word.”
In 2013 was Badenhorst by die wêreldspiesgooikonferensie in Kuortane in Finland om sy kennis te verbreed. “Spiesgooi in daardie land is soos sokker en rugby in Suid-Afrika. Terro Pitkimaki het nog nie vanjaar gegooi soos hy kan gooi nie, maar hy is puik.”

Dit is ‘n sug van verligting om te hoor dat hy nie sommer gou wil skuif nie, maar Liebenberg klop aan sy deur om dalk eendag by hom oor te neem.
Só het die seuns by die ASA-kampioenskappe gevaar:
• 2013: Werner Bouwer – 62,38 meter
• 2014: Stephan van der Bank – 66,58 meter
• 2015: Stefan Smit – 63,80 meter.
