Die Laeveld se jong ruiters moet beslis dopgehou word
Twee junior ruiters van Nottinghill Equestrian Estate presteer weereens puik tydens skou.

Die Laeveld spog met junior perderuiters wat beslis dopgehou moet word. Hanelize Kamffer en Nadia Breytenbach van Nottinghill Equestrian Estate het onlangs weer die wêreld aan die brand gespring tydens die Suid-Afrikaanse Junior Derby by Kyalami Equestrian Park (KEP) in Midrand.
Hulle het puik presteer by dié prestige byeenkoms wat die grootste individuele skou in die land is en een van die hoogtepunte in perdesport is.
Dit was die eerste keer dat Hanelize, ‘n gr. 9-leerder van Hoërskool Rob Ferreira, aan die derby deelgeneem het.
Sy en haar perd, Africa’s Whizbar, het ‘n tweede plek in die complete horse-klas behaal. Dit bestaan uit vyf toetse vir perd en ruiter.
Die vyf wat die hoogste punte behaal dring deur na die finaal waar die ruiter haar eie toets moet uitwerk om vir die beoordelaars te wys dat haar perd die beste afgerond is.
Hanelize het ook in die oop ruiterklas deelgeneem. Hier word gelet op die ruiter se rystyl en vermoë om die korrekte instruksies aan die perd oor te dra. Haar ma en afrigter, Kraai, vertel dat dit baie streng beoordeel word. Hanelize het derde gekom en Nadia, wat ook by Nottinghill ry, het ‘n vierde plek op The Capitalist behaal.
Hanelize het ook met Africa’s Whizbar ‘n sewende plek behaal in die 1,20 meter twee-fase kompetisie en kon kwalifiseer vir die 1,20-meter mini-derby op White Waters Rush On Me.
“Daar is drie kwalifiserende rondes in die opbou na die finaal, maar Hanelize en Nadia kon weens skoolverpliginge net twee voltooi.
“Hanelize het hierdie jaar 15 geword en dit was vir haar ‘n groot droom om in die hoofarena, die Bob Charter Arena by KEP deel te neem. Sy het haar baie goed van haar taak gekwyt as ‘n jong junior. Nadia het ook in die 90-sentimeterklasse deelgeneem op Aladdin en haar ook goed van haar taak gekwyt. Sy is tans in matriek en dit is ook haar laaste jaar as ‘n junior ruiter.
Sy het verlede jaar as die South African National Equestrian Schools Association Open Equitation-kampioen die jaar afgesluit,” het Kraai vertel.
Volgende op die kalender is die Uplands Festival aan die einde van die maand. Nottinghill bied ook in Junie ‘n multi-dissipline skou vir Mpumalanga se topruiters aan.
