Groot katgeveg verwag in Vodacombeker-halfeindstryd word verwag
Daar word tans hernieude motivering en spangees by die Steval Pumas bespeur en dit gaan veral belangrik wees as hulle die onoorwonne Leeus wil klop.
Rugbyliefhebbers kan ‘n harde katgeveg vanaand verwag wanneer die Xerox Leeus teen die Steval Pumas op Emirates Airline Park in Johannesburg in die Vodacombeker-halfeindstryd te staan kom.
Die Pumas gaan die kragmeting met hernieude selfvertroue aanpak nadat hulle die verdedigende kampioene, die GWK Griekwas met 28-14 op hul eie bodem verslaan het.
Die Leeus het ‘n moeilke kwarteindwedstryd beleef, maar het genoeg spandiepte gehad om die wa met ‘n oorwinning van 29-21 teen SWD Arende deur die drif te trek.
Daar word tans hernieude motivering en spangees by die Steval Pumas bespeur en dit gaan veral belangrik wees as hulle die onoorwonne Leeus wil klop.
“Ons gaan met volle selfvertroue in die wedstryd in. Die Leeus is ‘n baie talentvolle span, maar ons het ‘n paar swak punte geïdentifiseer wat ons gaan wil teiken,” noem MJ Mentz, afrigter.
Die vorige keer toe hulle teen die Leeus uitgedraf het, het die Leeus met ‘n goeie 24-16 gewen. Volgens Mentz is daardie wedstryd in die verlede en is sy span gereed om die foute reg te stel en hul teenstanders van nuuts af aan te pak.
“Ons het gekyk na ons verbroude kanse en verbroude doelskoppe, maar ons het ‘n paar veranderinge aangebring en ons gaan hulle onder druk sit sodat hulle onnodige foute begaan.”
Die Steval Pumas se kaptein, Stefan Watermeyer, glo dat sy spanmaats ook sy taak makliker gaan maak om leiding te gee. “Ons het ‘n groot groep ervare spelers wat hulle deel in hul onderskeie posisies doen en ons speel as ‘n span saam,” het hy bygevoeg.
Mentz gaan ook met ‘n onveranderde 22-tal in vanaand se wedstryd in en glo dat dit nie nodig is om aan ‘n wenformule te peuter nie.
“Dit sou onnodig wees om enige veranderinge aan die span te bring, behalwe weens beserings, omdat ek in elke speler glo. Ons het volle vertroue in die 22 wat Vrydag speel.”
Dit skop om 17:00 af en word op Supersport 1 uitgesaai.
Steval Pumas
1. Khwezi Mona
2. Jacques Momberg
3. De-Jay Terblanché
4. Rudi Mathee
5. Marius Coetzer
6. Uzair Cassiem
7. Lambert Groenewald
8. Jason-Colin Fraser
9. Reynier van Rooyen
10. JC Roos
11. Marcello Sampson
12. Stefan Watermeyer (Kaptein)
13. Jerome Pretorius
14. Bernado Botha
15. JW Bell
16. Marnus Schoeman
17. Simon Westraadt
18. Eduan van der Walt
19. Brian Shabangu
20. Johan Herbst
21. Justin van Staden
22. Wilmaure Louw.
