Karatekas skitter by nasionale Shotokan
Vier karatekas van die omgewing het verskeie medaljes ingepalm tydens die onlangse Shotokan Karate Nasionale Kampioenskappe.
Een van Witrivier se kranigste karatekas kon vroeër die maand die gesogte Shotokan Cup vir dames lig. Carien de Bruin het tydens die Shotokan Karate Nasionale Kampioenskappe op 9 Mei in die Kaap die prestigetrofee vir dames kumite (gevegskuns) verwerf.
Sy het eers die trofee vir die beste dames senior afdeling kumite ingepalm en daarna verskeie gedugte en ervare teenstanders in die ope-afdeling geklop. Sy het ook ‘n bronsmedalje in die kata-afdeling gewen.
Aden Haussmann, ‘n ander Laeveld-spanlid het eerste gekom in die kata-afdeling en tweede in die seuns kumite-afdeling. Hy het die wisseltrofee vir beste deelnemer (seun) ingepalm.
Dawie en Uli Ruthven het ook uitstekend gevaar. Dawie het twee bronsk medaljes vir onderskeidelik kata en kumite gewen, terwyl Uli ‘n goue medalje vir kumite losgeveg het.
Die karatekas se prestasies is werklik besonders aangesien slegs die beste in die sport genooi word om aan die byeenkoms deel te neem. Hulle moet ook ‘n gradering hoër as ‘n bloubeld bereik het.
Die Laeveld-streek se span, wat uit vier deelnemers bestaan het, het in die vierdie plek geëindig. Sensei Piet Venter vertel dat die byeenkoms volgende jaar in Gauteng is, wat dit moontlik maak om meer deelnemers te stuur.
Navrae: Piet Venter by 083-629-4475.
