Jong atleet gereed om land aan die brand te hardloop
Johardt het met 'n verstommende ses minute oor sy naaste teenstanders by die SA Kampioenskappe vanaf 2 tot 3 Mei in Hillcrest geseëvier en wil homself teen die wêreld se bestes toets.
Wanneer Suid-Afrika se voorste veldwedloopatleet oor berge en dale en klipperige oppervlaktes hardloop, beoefen hy nie net sy sport nie maar leef ‘n passie uit om sy talent vir die wêreld te wys.
Laevelder Johardt van Heerden (22) se passie is hardloop en dit word veral weerspieël in die feit dat hy Suid-Afrika as een van slegs drie deelnemers by die wêreldkampioenskappe in Zermatt, Switserland op 4 Julie gaan verteenwoordig.
Johardt het met ‘n verstommende ses minute oor sy naaste teenstanders by die SA Kampioenskappe vanaf 2 tot 3 Mei in Hillcrest geseëvier en wil homself teen die wêreld se bestes toets.
“Ek dink die wêreldkampioenskappe gaan fantasties wees, maar ook moeilik omdat ek nie aan die steil bergagtige toestande gewoond is nie. Ons gaan teen 3 100 meter bo seespieël moet hardloop en ek gaan mik om ‘n top 20-plek te haal,” noem hy.
“Ek gaan in die Drakensberge voor die tyd oefen om aan die toestande gewoond te raak. Dit is uiters moeilik om voor te berei omdat suurstoftekort iets is wat op daardie stadium in ‘n wedloop net trotseer moet word,” voeg hy by.
Hy het al van vroeg af ‘n hardloopleefstyl gekweek en het deur die jare sy talent by Hoërskool Nelspruit onder Charl Naude ontwikkel.
“Oom Charl help my steeds en ek sien hom nog gereeld wanneer ek vir my ma-hulle kom kuier,” sê Johardt wat tans regte by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus studeer.
Volgens hom is hy al vir ‘n hele paar jaar aktief by die sport betrokke, maar het hy die afgelope twee jaar teen die groot kanonne uitgedraf nadat mense hom aangemoedig het en sy potensiaal raakgesien het.
Dié langasem het ‘n klomp plaaslike wedrenne gewen en dit as motivering gebruik toe hy derde algeheel in die Num-Num Challenge buite Machadodorp geëindig het.
“Elke wedren het sy eie moeilikheidsfaktor wat van verskillende dinge afhang. ‘n Wedren wat uit baie kilometer bestaan is dalk lank, maar nie so moeilik soos ‘n wedren met ‘n korter afstand, maar moeiliker oppervlaktes om op te hardloop nie.”
By die ProNutro Africa X-wedloop het Johardt en sy spanmaat, Edwin Sisipi, 90 kilometer in drie dae gehardloop, wat 30 kilometer per dag behels het. Hulle het derde uit 300 spanne geëindig.
“Ons kon nie meer as 100 meter uitmekaar uit wees nie, so ‘n mens moet baie takties en slim hardloop om energie te bespaar, maar ook ‘n goeie spoed te handhaaf,” vertel Johardt.
Na hierdie wedloop het hy sy visier op die SA Kampioenskappe gestel en moes hy teen groot manne soos die verdedigende kampioen Thabang Madiba en Lucky Miya hardloop. Na 33 kilometer van intense heuwels en afdraandes is Johardt kop en skouers bo die res, arms omhoog, oor die wenstreep.
Hierdie suskes kan aan sy oefenskedule asook sy dieetvoorkeure toegeskryf word.
“Ek hardloop gemiddeld so 140 tot 160 kilometer per week waar ek my kort- en langafstande wissel. Ek sou sê dat ek baie spoed het en dit is waar ek baie tyd gedurende wedlope opmaak. Dit is ook uiters belangrik om baie bulte te hardloop vir voorbereiding.”
Dit is wel problematies tans vir Johardt, wat in Potchefstroom woon, en hy sukkel om daar ‘n koppie op te spoor. “Ek moet maar soms Vredefortkoepel toe gaan en daar oefen andersins oefen ek baie as ek huis toe kom,” noem hy.
Dié kranige atleet kort wel fondse vir sy vliegkaartjie Switserland toe aangesien slegs sy verblyf betaal word.
“Ek sal dit baie waardeer as enigiemand my kan help om my pad na Switserland ‘n hupstoot te gee,” noem hy.
Navrae: johardt.vanheerden@gmail.com
