Local sportSport

Kannetjie maak reeds sy stem dik in fietsry

Skaars ‘n jaar terug, het die spoedvraat van Laerskool Malelane, Jooste Coetzee aan sy eerste bergfietswedren deelgeneem. Nóú, na elke wedren, is sy naam in die eerste posisie in die sprog-kategorie vasgepen. Onbekende roete of nie – dié 11-jarige het geen banghaar op sy kop nie. “Ons het gehoor van Lien se Kleuternes se pretrit …

Skaars ‘n jaar terug, het die spoedvraat van Laerskool Malelane, Jooste Coetzee aan sy eerste bergfietswedren deelgeneem. Nóú, na elke wedren, is sy naam in die eerste posisie in die sprog-kategorie vasgepen.

Onbekende roete of nie – dié 11-jarige het geen banghaar op sy kop nie. “Ons het gehoor van Lien se Kleuternes se pretrit en besluit om dit te gaan ry. Ek het algeheel vierde geëindig en hier het die fietsry-gogga my aan die voet beet gekry.”

Tydens die Mpumalanga Kampioenskappe wat uit vier bene bestaan, het Jooste ‘n algehele eerste plek verdien. “Hy is ongelooflik toegewyd. Een naweek voordat ons op vakansie vertrek het, vra ek vir Jooste hoe laat ons kan ry? Hy reageer en sê hy wil net graag eers oefen voordat ons in die pad val. Fietsry is sy lewe,” sê sy pa Jan trots.

Jooste het nog nie ernstige beserings opgedoen nie.

“Ek het nog nooit in ‘n kompetisie geval nie, maar wel voor ‘n wedren by Mankele. Net voor die wegspringpunt het ek ‘n paar van die spronge uitgetoets. Ek het beheer oor my fiets verloor en my nerwe afgeval.”

Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe is beslis ‘n wedren wat hy nie sommer gou sal vergeet nie. “Dit is ‘n jaarlikse kompetisie waar van die land se beste fiestryers bymekaarkom. Hier kry ek die geleentheid om myself teen die bestes te meet. Ek en my spanmaat, Waldo Potgieter hou daarvan om rond te speel, maar as dit by kompetisies kom sit ons alle grappies op ‘n stokkie en gee net ons beste.”

Jooste Coetzee en sy beste maat, Waldo Potgieter.
Jooste Coetzee en sy beste maat, Waldo Potgieter.

Die bekende fietsryer van Hectorspruit, Dirk Lourens is ‘n figuur waarna Jooste opkyk.

“Dirk is my gunsteling fietsryer. Hy rig my af en help my met die tegniese gedeeltes soos om die skerp draaie en steil afdraandes onder die knie te kry. Hy is ‘n oud-Springbok en ek volg hom as hy aan kompetisies deelneem.”

Malalane Toyota is die trotse borg van dié jong fietsryer en het onlangs vir Jooste ‘n nuwe fiets gegee waarmee hy reeds goeie tye gery het.

Jooste is tans die voorloper in die MTB Spur-skolereeks. Met die laaste reeks, het hy in die eerste plek gekom na 24:31 – een minuut vinniger as die ryer in die tweede plek.

“Vir nou dink ek nie aan die toekoms nie. Ek ry nou vir die liefde van die sport.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button