Nellies wys hul staal op die sportveld
Vier van Hoërskool Nelspruit se rugbyspanne moes die naweek hul man staan in die eindstryd van die Mpumalanga-liga vir makro-skole.

Vier van Hoërskool Nelspruit se rugbyspanne moes die naweek hul man staan in die eindstryd van die Mpumalanga-liga vir makro-skole.
Slegs die o/15A-span kon egter daarin slaag om hul opponente van Hoërskool Middelburg naelskraaps met ‘n telling van 12-10 te verslaan en kan die septer swaai as Mpumalanga-wenners.
Die Rhinos XV moes die knie teen HTS Middelburg buig. Die finale telling was 12-14 en die eerstespan, o/16A- en o/14A-span het as naaswenners uit die stryd getree.
Die tweede dogtershokkiespan het in die halfeindstryd van die Mpumalanga-liga, wat in Witbank plaasgevind het, meegeding en daarin geslaag om Hoërskool Generaal Hertzog 1-0 te wen. Hulle het in die eindstryd teen Hoërskool Volksrust te staan gekom en die spit 2-3 afgebyt.
NHS se netbalspanne het hul staal in Potchefstroom gaan wys waar hulle aan die Coke Toernooi deelgeneem het. Die dogters het teen sterk opposisie te staan gekom en gemengde uitslae is behaal.
Die o/14A-span het in die eerste ronde van die toernooi teen Hoërskool Waterkloof te staan gekom en ‘n oorwinning van 9-4 behaal. Die span het uitstekende netbal gespeel en tot die eindstryd van die toernooi deurgedring, nadat hulle hoërskole Ben Vorster, Potchefstroom Gimnasium en Westvalia gewen het. Hulle is egter 16-18 deur Hoërskool Rustenburg in die eindstryd gestuit.
