Nellies maak internasionale debuut
Hulle is die enigste twee spelers van die Laeveld wat tot dié span verkies is.
Twee rugbyspelers van die Laeveld draf volgende week in ‘n o/18-internasionale-reeks teen Engeland, Frankryk, Wallis en Italië uit.
Dewald Maritz en Marnus van der Merwe, albei van Hoërskool Nelspruit (NHS), is na afloop van die o/18-Coca-Cola Cravenweek in Stellenbosch in onderskeidelik die SA Skole en SA Skole A-span opgeneem. Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie het Donderdag die groep van 52 spelers aangekondig.

Die vaskopstut, Dewald, was verlede jaar deel van die Akademie A-week en is vanjaar vir die eerste keer in die o/18-Pumas Cravenweekspan opgeneem. Alhoewel hulle nie een wedstryd in die Eikestad kon wen nie, was Dewald een van die uitblinkers. “Ek het in die sitkamer gesit en regtig nie my naam op die televisie verwag nie. Dit sal ‘n voorreg wees om my land volgende jaar ook gedurende dié week te kan verteenwoordig.”
Die breier van die Nellie Rhinos, Gerhard Holtzhausen, het Maandag aan Laevelder vertel dat die twee manne deur die jaar hul kant gebring het en dat hulle die plek in die span verdien.
“Dit is ‘n baie goeie leerskool vir Dewald wat nou eers in gr. 11 is en dit maak heelwat deure vir Marnus oop. Die twee spelers is net weer ‘n bewys dat ‘n mens nie na die Rand hoef te gaan vir beter geleenthede nie en dat ons as Hoërskool Nelspruit steeds die hoogste prestasie in sport kan bereik.”
Marnus speel sedert o/13-Cravenweek en het as o/16-speler vir die Grant Khomo-span uitgedraf. Hy speel vir sy skool op flank en agsteman, maar is as haker vir die Skole A-span gekies. “Hierdie is my tweede jaar as lid van die o/18-Cravenweekspan. My ma het uit die kamer gekom en vir my gesê my naam het sopas op televisie verskyn. Ek was uit die veld geslaan. Ek wil graag volgende jaar die tyd in Frankryk wees waar ek voltyds rugby wil speel.”

Die spanne sal Sondag ter voorbereiding van die eerste wedstryd op Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch bymekaarkom. Die NHS-spelers sal die kwarteindstryd van vanjaar se Beeld-trofeë oor twee naweke teen Garsfontein misloop. HTS Middelburg het die afgelope naweek die Rhinos van hul troon as grootskole beroof nadat hulle 14-12 gewen het.
NHS het juis die span van Garsies verlede jaar in die eindstryd geklop. Die Rooi Bulle sal eers na die komende naweek weet wie hulle in die kwarteindstryd ontmoet aangesien Hoërskool Menlopark en Marais Viljoen eers sake op die veld moet uitspook.
Die laaste speler van NHS wat in die SA Skole-span opgeneem is, is Conraad Beer van Vuuren.
