Pumas teken nóg drie
Twee Superrugby-spelers beskikbaar vir Vrydagaand se kragmeting teen die Cell C Sharks. Die Pumas het ook die week drie nuwe spelers geteken.
Die Pumas het die Sewes-Springbok Deon Helberg, die Sharks-stut Marné Coetzee én die UJ-agtsteman Dylan Peterson vir die Curriebeker nader getrek maar nie een van die drietal behoort Vrydagaand al in Mbombela teen die Sharks te speel nie.
Die Pumas het verlede jaar skitterend afgeskop en hul eerste drie tuiswedstryde – onder andere teen die Sharks – gewen en sal duimvashou dat hulle Vrydagaand weer op ‘n wennoot kan afskop.
Al drie die spelers – Coetzee is op ‘n leenooreenkoms van die Sharks af – het Maandag in die Laeveld saamgeoefen terwyl die Superspelers Corné Fourie en Giant Mtyanda ook beskikbaar is.
Albei behoort deel van die Pumas se 22-tal te wees met Mtyanda wie teen sy Superrugby-spanmaats gemeet sal kan word.
Helberg het sowat 40 wedstryde vir die Bulle en Leeus agter die rug, waarvan een in die Bloues se Superrugby-trui en een in die promosie/relagasiestryd twee jaar gelede vir die Leeus was.
