Gesogte gholftrofee kom vir eerste keer Laeveld toe
Hulle het Saterdag in die Mpumalanga Liga-eindstryd meegeding waar hulle teen die onoorwonne Piet Retief-span te staan gekom het.

Twee gholfspanne, een van die Hoëveld (Piet Retief), en een van Witrivier het Saterdag behoorlik mekaar by die Nelspruit Buitebaan die stryd aangesê.
Die hitte was dalk net genoeg om die Hoëveld te kniehalter, maar dit het hulle nog nooit vantevore gekeer om ‘n taai teëstand te bied nie.
Uit 36 Laeveldse spanne het die sogenaamde Playboys van Witrivier tot die eindstryd deurgedring en kon hulle die Laeveld-liga vir die eerste keer in 38 jaar vroeër vanjaar wen.
Hulle het Saterdag in die Mpumalanga Liga-eindstryd meegeding waar hulle teen die onoorwonne Piet Retief-span te staan gekom het. Vir die eerste keer in die geskiedenis, staan hierdie gesogte trofee nou in Witrivier.
Die beterbalputjiespel-formaat is gevolg, wat basies behels dat elke beterbal-span uit twee lede bestaan, en die beste telling dan getel word.
Daar is vier vennootskappe per span dus het elke span uit agt lede bestaan. Uit die vier het Witrivier drie gewen en een gelykop gespeel.
Dit bring dan die eindtelling tot 7-1. Meeste van die oorwinnings is eers op die 18de gat bepaal, wat net weer bewys hoe tawwe stryd dit werklik was.
Die kaptein, Braam Haasbroek sê: “Om vir eerste keer in die geskiedenis saam met my span die trofee vas te hou is ‘n groot hoogtepunt.
Dit was ‘n lang en opwindende seisoen waar elke spanlid sy kant gebring het.
Die ouens het die hele seisoen hul karakter gewys en baie hard geoefen.
Die rede vir ons sukses die seisoen is dat ons van die begin af as ‘n eenheid gefunksioneer het en bymekaargestaan het.”
Hy bedank graag die klub en die borge vir hul ondersteuning.
Hy bedank ook die Mpumalanga Gholf-unie en ook die Laeveldse gholfvereniging vir ‘n wonderlike toernooi waar sportsmangees en vriendskappe die uiteinde dag gekenmerk het.
