Local sportSport

Witrivier maak geskiedenis

Dit was die eerste maal in die geskiedenis dat twee Laeveldse spanne vir die gesogte titel meegeding het.

Aartsvyande Witrivier en Nelspruit Rugbyklub het in ‘n titaniese eindstryd Saterdag op laasgenoemde se veld, behoorlik koppe gestamp.

Hoewel Nelspruit se lynstane in die eerste helfte veel te wense oorgelaat het, kon hulle steeds die toon in beide gebiedsvoordeel en balbesit aangee.

Met ‘n rustydtelling van 19-7 was die spelers en die ondersteuners oortuig dat die skild Mbombela toe sou kom, maar toe die skaduwees begin lank raak, het Witrivier met ‘n fel teenaaval begin.

Nelspruit was op die agtervoet, maar kon steeds daarin slaag om twee drieë aan te teken en te verdoel. Dit was egter nie genoeg om die besoekers se wenlus te stuit nie. Met die eindtelling op 35-34, was Witrivier se enkelpuntoorwinning genoeg om ‘n plek in die in die 2016 Cell C Gemeenskapsbekertoernooi te verseker, en om ook die skild huis toe te neem.

Dit was die eerste maal in die geskiedenis dat twee Laeveldse spanne vir die gesogte titel meegeding het.

Bennie Pringle, voorsitter van Witrivier Rugbyklub sê hulle is hoogs in hul skik oor die wen, maar dit kon enige kant toe gegaan het. “Beide spanne is uitstekend, maar die oefening van die afgelope vier weke was uiters goed en daarom was ons fisies en geestelik goed voorbereid vir die wedstryd,” sê hy.

Hy voeg by dat altwee spanne baie trots kan wees op hulle vertoning. “Ons het uiteindelik die vrugte gepluk van ons harde werk en oefening.”

Hoewel dit nie heeltemal verloop het soos Pringle dit sou wou gehad het nie, is hy steeds baie tevrede. “Dit was die eerste keer vanjaar dat ons die hele 80 minute ons harte uitgespeel het, en daarop is ek bitter trots.”

Hy voeg by dat hulle gefokus was en dat hulle voorpelers grootliks tot die wen bygedra het. Sonder die agterlyn se giftige aanvalle sou die wen egter ook nie moontlik gewees het nie.

“Vir die gemeenskapsbeker gaan ons koppe reg moet wees en ons gaan bitter hard moet werk om op hierdie vlak mee te ding en iewers te kom.

Dit is bietjie anders as gewone klubrugby en ‘n hele paar dinge moet eers in plek val voordat ons op hulle vlak is. Maar, met ‘n uitstekende bestuurspan en spelers se samwerking, hoop ons om ten minste die top-agt te haal.”

Lees ook: Gesogte gholftrofee kom Laeveld toe

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button