Wildtuin-gimnaste vier ‘n suksesvolle jaar
Skukuza se gimnaste het verlede naweek ‘n jaar van kompetisies, harde werk en prettige oefeninge met ‘n prysuitdeling gevier.
Gimnaste van Skukuza het verlede naweek baie trots hul sertifikate en trofees van die Hazyview Gimnastiekklub ontvang. Die groep van 45 kinders neem aan voorskoolse tot vlak-1-gimnastiek deel.
Voor die prysuitdeling het die jong gimnaste die ouers, familielede en vriende met die passies wat hulle gedurende die jaar aangeleer het vermaak. Elke groep is volgens hul uitvoering se musiek aangetrek en die kleingoed kon na hartelus spring en hop.
Lynn Wallace, eienaar en afrigter van die klub, sê die geleentheid dien as bevestiging van die studente se harde werk en motiveer hulle om gedurende volgende jaar hul beste te gee.
“Daar word gedurende die jaar baie hard gewerk en tussentyd ook lekker gespeel met die dissiplines wat uitgeoefen word. Daar word baie gewerk aan selfdisipline, selfvertoue, uithouvermoë, koördinasie, liggaamlike opvoeding, klein en groot motoriese funksies en konsentrasie,” verduidelik Wallace.
Elke gimnas het ‘n medalje en sertifikaat ontvang, die verskillende vlakke het ‘n trofee vir hul prestasies verdien en daar was ‘n paar spesiale trofeë oorhandig.
Karieke Coetzee het die trofee vir beste gimnas vir vlak 1 verwerf en Vernique van de Berg is as die beste gevorderde gimnas aangewys.
Die kinders was baie opgewonde oor hul pryse en Wallace vertel dat hulle net oor en oor wou wys hoe goed hulle is.
Familielede van die klub se Hazyview-gimnaste kan ook uitsien na die jongelinge se prysuitdeling wat Donderdag 26 November om 18:00 by die Kiepersol-boeresaal plaasvind.
