Sport

Rugby afrigters deel wenresepte en strategieë

Die Steval Pumas het ook deelgehad in die Mpumalanga Rugby Afrigters Vereninging se indaba verlede naweek.

Daar is voortdurend veranderinge in die reëls en spel van rugby, en afrigters op alle vlakke moet op hoogte hiervan bly om hul sukses op die veld te verseker.

Om afrigters van laerskool-, hoërskool- en klubspanne van regoor Mpumalanga te ondersteun, het die Puma Afrigtings Indaba verlede naweek plaasgevind.

Dit is die derde jaar wat die Mpumalanga Rugby Afrigters Vereninging dié kursus organiseer. Vanweë die sukses daarvan, het 184 afrigters Vrydag en Saterdag in Mbombela saamgetrek.

Sekretaris van die vereniging, Adé Adendorff sê dit het ten doel om die vaardighede van afrigters te verbeter.

“Ons probeer almal op ‘n hoër standaard kry. Dit bemagtig hulle en gee hulle ‘n bietjie skietgoed.”

Tydens die Indaba is afrigters blootgestel aan tegnieke en oefenmetodes om verbeterde vaardighede en spelpatrone by hul spelers tuis te bring. Hulle kan dan volgens hul eie spanne en spelers besluit watter aspekte vir hulle sal werk.

puma rugby afrigtersvereeniging indaba

Evan Beukes, ook van die vereeniging, verduidelik dat tendense in spel voortdurend ‘n klein bietjie verander in dié deurlopende ontwikkelende spel. “Almal ontwikkel voortdurend. Afrigters moet op hoogte bly.”

Boonop verander die spelreëls en die beslissings van skeidsregters óók voortdurend, en deel van die kursus was om afrigters te help om volgens die korrekte reëls af te rig.

Die Steval Pumas se afrigtingspan het Saterdag met die spelers hul eie partone gedemonstreer.

Pumas MJ Mentz indaba

Hoofafrigter van die Pumas, MJ Mentz het onder andere die ABC-verdedigingstegniek verduidelik waarvolgens gate gevul word in die Pumas se verdedigingslyn, asook die stappe was spelers in die “check zone” kan doen om ‘n opponent effektief te stuit.

Voorlynafrigter, Hein Kriek sê alles lê in die detail. “Jy moet ‘n speler wys hoe om kontak te hanteer en te domineer. Jy wil vorentoe beweeg. Jy verdedig om die bal so gou as moontlik terug te kry.”

Die Steval Pumas se Absa Curriebekerveldtog skop op 9 April teen die Valke af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button