Atlete durf mini-driekamp by Ingwenyama aan
Swemmers, drawwers en fietsryers het Saterdagoggend by Ingwenyama Conference & Sports Resort vir ‘n minidriekamp aangemeld.

Frans Landsberg, die gim- en sportbestuurder by Ingwenyama verduidelik dat hulle begin het om dit aan te bied omdat daar groot belangstelling maar te min geleenthede vir atlete is om hulle op dié uitdagende manier te toets.
Hulle het in November ‘n driekamp aangebied, wat sowat 12 deelnemers gelok het. Vandeesweek het dit gegroei tot meer as 30 inskrywings. Hulle moes 20 kilometer fietsry, vyf kilometer draf en 600 meter swem.
Die fietsry vind in die gimnastieksaal plaas. Almal ry op dieselfde telling, waarna hulle draf en dan in die swembad op die perseel swem. Daar is ‘n beperkte aantal fietse, wat meebring dat deelnemers in ‘n groep volgens hul nommers begin en, sodra ‘n fiets beskikbaar raak, kry die volgende deelnemer ‘n beurt.

Elke atleet se tyd begin wanneer hulle op die fiets klim, en eindig wanneer hulle klaar geswem het. Dit is veral gerieflik vir mense wat nie fietse het nie, en diegene wat nie in ‘n dam wil swem nie. Die stesel laat ook genoeg ruimte in die swembad, want almal is nie gelyktydig daar besig nie.

Saterdag het Yolanda Lizamore en Donne Greeh in die beste tye klaargemaak. Beide het ‘n ete vir twee by Ingwenyama gewen.
Landsberg sê die aantal kinders – byna 40 persent – wat Saterdag deelgeneem het, het hulle oortuig om ‘n spesifieke uitdaging vir kinders ook aan te bied. “Die meeste van die kinders kon Saterdag die 20-kilometer op die fiets klaarmaak en die 600-meter swem voltooi, maar kon nie die vyf-kilometer klaarmaak nie. Ek is beïndruk met die kinders se fiksheid.”
Almal het darem medaljes gewen, ongeag van hul prestasies. Voortaan sal kinders aan ‘n spesiale korter driekamp kan deelneem: 10-kilometerfietsry, 2,5-kilometerdraf en 300-meterswem.
Die volgende minidriekamp by Ingwenyama word op 27 Februarie aangebied. Kontak Frans Landsberg op WhatsApp by 083-289-9847 om ‘n nommer te bekom. Kostes sal R40 per persoon beloop.
Sien nog foto’s hier.
