Local sportSport

NHS-atlete tuis onder van die bestes

Wanneer meer as 50 van Noordvaal se sterkste atletiekskole, verteenwoordig deur elkeen se 15 topatlete, mekaar op 'n tartanbaan pak, spat die vonke behoorlik!

Die atlete en toeskouers wat bevoorreg was om op Woensdag, 10 Februarie die jaarlikse Noordheuwel-byeenkoms in Pretoria by te woon, het ‘n atletiekskouspel beleef wat nie sommer gou vergeet sal word nie.

NHS is dankbaar om jaarliks aan sy voorste atlete hierdie besonderse geleentheid te kan bied om hul talente en standaarde teen die room van die noorde se bestes te kan meet.

Vanjaar was die skole in twee groepe verdeel, met NHS wat in ‘n groep van 28 spanne sy staal moes toon.

Die Nellies het die stang vasgebyt en ‘n uitstekende gemiddelde punt van 901 behaal. Dit het die skool bo bekendes soos Noordheuwel (895), Rustenburg (883), Dr. EG Jansen (876), Secunda (865), HTS Witbank (786) en Florida (772) – om net ‘n paar te noem – geplaas.

‘n Gemiddeld van 901 ASA-punte, word slegs deur 15 atlete behaal, wanneer daar ‘n klompie puik vertonings gelewer word.

NHS se seuns het agt prestasies bo 900 gelewer, en ‘n verdere ses bo 800. Vir die eerste keer vanjaar het ‘n Nellie-meisie bo
900 punte verwerf, met nog vyf prestasies (deur meisies) bo 800 punte.

Verlede jaar se nasionale o/15-spiesgooikampioen, Stefan Smit, het nie op hom laat wag nie en die swaarder 700g-spies (seuns 16) op ‘n pragtige 61,51m laat grondvat (973 punte). Ook sy afstand in skyfwerp (48,78m – 958 punte) was indrukwekkend.

Werner Bouwer (s.19) het weer eens gewys dat hy ‘n kookwaterjaar beleef, toe hy sy item met ‘n gooi van 67,00m ingepalm het (ook 958). Jacques Marais (s.14) se 5,57m in die verspring, het aan hom 959 punte besorg, terwyl Chyle van Zyl (s.15) met sy 48,71m in skyfwerp, 965 tot die span se totaal bygevoeg het.

Stephan van der Bank was vir NHS se derde 60m+ gooi in spiesgooi verantwoordelik, toe hy ‘n stewige 63,68m in die item vir
seuns 17, gegooi het (909 punte).

Die veelsydige Joshua Maass (57,97m in spiesgooi s.16 het vir nog 900 punte gesorg. Tertius Mentz het die 800m s.16 in
2:02.20 kafgedraf, waaraan 926 punte toegeken is.

Prestasies wat 800+ punte werd was:
• Tertius Mentz (s.16): 400m – 52.63 sek. (804)
• Stephan van der Bank (s.17): gewigstoot – 15,81m (864)
• Joshua Maass (s.16): verspring – 6,25m (836)
• Chyle van Zyl (s.15): gewigstoot – 14,25m (829)
• Jacques Marais (s.14): skyfwerp – 37,74m (833)
• Xander Rutherford (s.14): skyfwerp – 37,44m (825).

Onder die meisies, het Suzaan Nel (m.14) die toeskouers op uithaler-vertonings in die verspring en 100m, trakteer. Sy wen die verspring met ‘n puik afstand van 5,00m – uitstekend vir ‘n gr. 8-meisie! Daarmee het sy 908 punte verdien. Haar 100m-tyd van 13.01 sek. (885 punte) was eweneens indrukwekkend. Marne van Aarde het haar persoonlike beste in gewigstoot (m.16) na 11,97m opgestoot, en ‘n verdere 844 punte tot die spantotaal bygedra. Ilke Joubert (m.17) was ook weer op haar stukke. Sy behaal mooi afstande van 12,68m (gewigstoot – 869 punte) en 36,03m (spiesgooi).

Hoogspringers Linmari Potgieter (m.16 – 1,50m) en Luca Swanepoel (m.14 – 1,40m) kon elk ook meer as 800 punte behaal. Ander goeie vertonings was Carmen Cronjé (m.19) se beste van 5,21m in verspring, asook 16,31sek. in 100m-hekkies; Megan Nel (m.15) se 4,78m (verspring) en 9,95m (driesprong); asook die 33,65m wat Marne van Aarde in spiesgooi (m.16) aangeteken het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button