Nellies staan hulle man in Groot Vyf
Agt seun- en agt dogterspanne het deelgeneem aan die tenniswedstryde wat verlede naweek in Mbombela aangebied is.

Hulle teenstanders was sterk, maar Hoërskool Nelspruit (NHS) se eerstetennisspanne kon oor die naweek hul maan staan teen hul opponente. Die skool het Vrydag en Saterdag in ;n bedompige Laeveld hul jaarlikse Groot Vyf uitnodigingstennistoernooi aangebied.
Agt seun- en agt dogterspanne het deelgeneem aan die wedstryde wat by NHS, Van Riebeeckpark, Curro, Panorama en Hoërskool Bergvlam gespeel is. Met soveel op die spel was sake by tye maar bra gespanne tussen opponente.
Affies, Boland Landbou, Ermelo, Garsfontein, HTS Middelburg, Monument en Wilgerivier het teen die gashere kom meeding. HTS Middelburg se dogters en Boland Landbou se seunspanne het Saterdag uiteindelik as algehele wenners uit die twee-dag stryd getree.
Onder die seuns het NHS teen Garsfontein en Wilgerivier gewen en teen Monument en Boland Landbou verloor om algeheel vyfde te eindig. Die toernooi is gewen deur Boland Landbou wat HTS Middelburg 5-4 in die finaal kon klop.
NHS se dogterspan het ook algeheel vyfde geëindig. Hulle kon die uitnodigingspan, Garsfontein en Wilgerivier klop, maar het vasgeval teen HTS Middelburg wat die toernooi gewen het deur Ermelo met 5-3 in die finaal te wen.
Agt van NHS se leerlinge is ook onlangs verkies tot Mpumalanga se tennisspanne, wat in Maart aan die Suid-Afrikaansa skoletoernooi in Pretoria gaan deelneem.
- Sien meer foto’s hier: NHS staan hulle man in Groot vyf tennistoernooi: al die aksie
