Staatmaker is die speler van die jaar
Die Steval Pumas se Marnus Schoeman is tydens SA Rugby se prysuitdelingsaand vir sy uitstekende vertoning in 'n taai Vodacombekerreeks as die Vodacombeker-speler van die jaar aangewys.

Dié witkopflank het die SA o/21-kaptein van die 2012 Junior Wêreldbeker, Wiaan Liebenberg en sy voormalige spanmaat, JC Roos uitgestof om met die louere weg te stap.
“Die toekenning is net ‘n bewys van harde werk wat beloon word. Ek speel nou al ‘n ruk lank in die reeks en om so iets aan die einde te ontvang, is ‘n teken dat my rugbypeil ‘n opwaartse kurwe het. Ek wil net graag dankie aan die ondersteuners, die span, my familie, ouers en my liefde, Riana Oosthuizen vir julle ondersteuning sê. Sonder julle sou die toekenning nie moontlik gewees het nie,” sê Schoeman.
Roos, wat oorspronklik Mbombela vir Port Elizabeth verruil het met die hoop om Superrugby vir die OP Kings te speel, is op pad Japan toe waar hy vir die Canon Eagles gaan uitdraf.
“Ons is geweldig trots op Marnus en voel geëer om te sê hy is ‘n Puma. Hy het die toekenning uit en uit verdien, veral in die uitspeelwedstryde van die Vodacombeker.
“Hy was goud werd in die kwarteind teen die Griekwas, halfeind teen die Leeus en in die eindstryd teen die Westelike Provinsie. Hy het aan die begin van die Vodacombekerseisoen nie baie speelkans gekry nie, maar het teen die einde vir ons deurgekom,” het die Pumasbreier, MJ Mentz Maandag aan Laevelder gesê.
Tydens die 2015 Mpumalanga Rugby-Unie se toekenningsaand, is Schoeman ook as Voorspeler van die Jaar aangewys, asook die speler wat die meeste keer oor die doellyn in 2015 geduik het met sewe Vodacombeker- en sewe Absa Curriebeker-drieë. Roos het die toekenning vir die meeste punte van die jaar ontvang, met 118 tydens die Vodacombekerreeks en 59 in die Absa Curriebeker.
Nóg ‘n Laeveld-rugbyheld, die krullebol Werner Kok is as die Springbok-sewesspeler van die Jaar aangewys nadat hy ook verlede jaar die trofee as Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar verower het.
“Dis is regtig ‘n groot eer en is definitief iets wat ek dink enige Sewesrugby-speler in sy loopbaan wil ontvang. Ek is so bly gewees, maar ek weet ek moet daardie toekenning as motivering gebruik om weer terug op die veld te kom en weer so goed te wees as wat ek was voor my besering. Dit is net harde werk van nou af. Die toekenning is eer aan al my spanmaats wat dit moontlik gemaak het dat ek my bes kon gee en die beste wees wat ek kon.”


