Gradering na swartbelt verg strawwe oefening
Swart- en bruinbelde van Gauteng en Witbank het by die Laeveldse seniors vir die gashuku aangesluit.
Belangrike karateopleiding het verlede naweek by Hoërskool Rob Ferreira plaasgevind. Laeveldse karate-dojo’s, wat opleiding ontvang vir hulle eerste swartbeltgradering, is deur senior instrukteurs van Gauteng afgerig en afgerond.
Die gashuku-oefensessie wat deur sensei John Barnett, sewende dan en senior instrukteur van die Shotokan-karatestreek noord van die Vaalrivier, het die opleiding aangebied. Swart- en bruinbelde van Gauteng en Witbank het by die Laeveldse seniors vir die gashuku aangesluit.
Senior instrukteurs het van die geleentheid gebruik gemaak om die voornemende kandidate deeglik deur te kyk en aan tegnieke en katas te skaaf. Die lede wat tans voorberei, oefen deesdae soms tot vier keer per week wat beteken dat hulle soggens voor dagbreek en Saterdae van 07:00 tot 09:00 oefen.
Volgens Piet Venter van die Laeveld-streek se Shotokan Karate, verg die kata ‘n vaste stans, intense verstandelike wakkerheid of bewustheid en baie gefokuste interne energie en krag.
Karate word ‘n lewenswyse. Die antieke krygskuns staan op drie bene. Gesonde fisieke oefening wat aangewend word vir selfverdediging en in die proses tot verstandelike wakkerheid bydra. Alles dra tot selfverwesenliking en karakterbou by.
