Kotze vir die eerste keer in die beginspan
Voormalige speler van Witrivier Rugbyklub, Jacques Kotze is vir die eerste keer hierdie seisoen in die Steval Pumas se beginspan vir vanaand se kragmeting teen die OP Kings op Mbombela Stadion ingesluit.
Kotze het sy debuut vir die pienktruie in die sesde Curriebeker-kwalifiserende wedstryd teen die Vodacom Blou Bulle in Pretoria gemaak. Hy het ook verlede naweek sy eerste drie vir die Pumas teen die Sharks XV gedruk.
Lees ook: Pumas beat Lions in Steyl at KaNyamazane
Die senter, Wilmaure Louw vervang Hoffmann Maritz wat tydens ‘n oefensessie ‘n skenkelsening seergemaak het. Louw het nog net een keer hierdie seisoen vir die Pumas teen die SWD Arende uitgedraf. Hy speel vanaand vir die 50ste keer vir dié span.

“Ongelukkig verloor ons vir Hoffmann, maar Louw se ervaring sal vanaand van kardinale belang wees. Die span sien daarna uit om teen die Kings uit te draf. Na vanaand het ons weer ‘n loslootjie voordat ons die Griekwas in Kimberley pak,” het die afrigter MJ Mentz gesê.
Lees ook: Drie nuwes vir Pumas
Stut, De-Jay Terblanché vervang die beseerde Khwezi Mona wat ‘n kniebesering het, op loskopstut. Die vleuel, Bernado Botha is ook terug in die begin 15-tal met Deon Helberg wat op die plaasvervangersbank is.
Sabelo Nhlapo, wat met ‘n geskeurde boarmspier gesukkel het, het twee maande gelede weer begin oefen en is vir die eerste keer hierdie seisoen deel van die 22-tal.
Die wedstryd skop om 17:00 af.
Kaartjies kan by die stadion of Computicket teen R60 vir vol-wassenes en R10 vir skoliere aangekoop word.

