Local sportSport

Griekwas, Pumas se grootste kopseer

Die Steval Pumas het Vrydagaand die OP Kings 'n bloedneus in die 11de Curriebeker-kwalifiserende reeks gegee toe hulle met 53-20 op Mbombela Stadion geseëvier het.

Alhoewel die Pumas se deelname aan die premierliga van die Curriebekerreeks so te sê ‘n uitgemaakte saak is, het die hemelbesem, Hugo Kloppers gesê dat hulle nie nou op hulle louere gaan rus nie.

“Ons as ‘n span is baie bly oor die wen, maar as kaptein is ek persoonlik baie trots op die manne. Vrydagaand se oorwinnning het baie druk van ons afgehaal, maar dit beteken nie dat ons nou die voet van die pedaal gaan afhaal nie.”

Die Griekwas, wat steeds die eerste plek op die punteleer beklee na nog ‘n sege van 36-14 teenoor die Haaie XV, wag oor twee weke vir die Pumas in Kimberley.

Die span van die Baai het Vrydagaand met twee onderskepdrieë gespog – die eerste in die 49ste sekonde deur die vleuel, Yaw Penxe en die tweede in die 58ste minuut deur Courtney Winnaar.

Nardus van der Walt en Sabelo Nhlapo.
Nardus van der Walt en Sabelo Nhlapo.

Die pak voorspelers van die tuisspan, kan baie tevrede voel met hulle werksverrigtinge. Eers het die haker, Frank Herne na ‘n dryfmaal die Pumas se eerste drie en kort daarna sy tweede gedruk. De-Jay Terblanche en Lambert Groenewald was ook onder die Pumas se drieëdrukkers in die eerste helfte.

Die skrumskakel, Reynier van Rooyen is kort na rustyd met ‘n geelkaart getroef. Die Kings het van dié blaps gebruik gemaak deur ‘n vyfpunter deur Somila Jho. Dit was veral die nommer vier-slot, Tazz Fuzani wat tot sy volle potensiaal gespeel het.

“Ek is nie gelukkig met die span se vertoning nie. Die Pumas het ons sterkpunte uitgebuit. Bygesê het ons twee 19-jariges op die veld gehad, maar van die voorspelers het nie juis hande opgesteek nie. Daar was goue oomblikke, maar nie iets waarop ons kan trots wees nie. Die oorblywende wedstryde word nie makliker nie,” het die afrigter van die Kings, Robbi Kempson gesê.

Brian Shabangu wat vir sy eerste keer die seisoen in die beginspan ingesluit was, het ook vir die Pumas onder die pale gaan kuier met Groenewald wat ook met sy tweede drie in die kragmeting oorgeduik het.

Wilmaure Louw draf in sy 50ste wedstryd vir die Pumas op saam met Pumaki en Jason Stoltz wat sy sewende verjaarsdag gevier het.
Wilmaure Louw draf in sy 50ste wedstryd vir die Pumas op saam met Pumaki en Jason Stoltz wat sy sewende verjaarsdag gevier het.

 

Die nuweling, Reuben Johannes het vir die eerste keer ‘n drie in die Pumatrui aangeteken.

JP Lewis van die Westelike Provinsie wat die week by die Pumas aansluit, was een van die streeptruie se suksesverhale na die naweek se wegholoorwinning van 59-29 teenoor die Valke waar hy ‘n driekuns behaal het.

“Ons is in die wolke oor die wen en dit maak dit soveel beter om met ‘n bonuspunt op ons tuisvelde te kan spog. Dit is die eerste keer waar ons behoorlike rugby voor ons tuisskare gespeel het. Ons het met die wedstrydplan geslaag. Daar is een of twee foutjies waaraan ons sal werk, maar die rus het op ‘n goeie tyd gekom,” het die Pumabreier, MJ Mentz gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button