Dorp se jukskeispelers warm hul spiere op
Jukskeispanne vanoor die hele streek het Saterdag in Komatipoort vir 'n sosiale ligabyeenkoms bymekaargekom.

Komati wat in die B-liga speel en nog ’n nuwe klub is, het hier die geleentheid gehad om teen A-ligaspanne deel te neem en kon so heelwat ondervinding opdoen.
Daar het ook twee Springbokke deelgeneem, naamlik Brenda Wolmarans en Miranda de Jager. Komatipoort het twee spanne ingeskryf en al sewe het teen mekaar deelgeneem.
Dit was ’n heerlike gesellige dag en die sport het families die geleentheid gegee om saam deel te neem. Middelburg-span het byvoorbeeld uit Freek en Mara Stolz, hul kinders Annie en William van den Berg en kleinkinders Henry en Bianca bestaan.
Die voorsitter van Komati Jukskeiklub en sy helpers het hard gewerk om die klubhuis op te knap en netjies en gereed te kry vir die groot dag. Nuwe toilette is aangebring, daar is gebou, gebreek en geverf en met al die nuwe geriewe en bedienings-area is die klub baie trots op hul handewerk.
Jukskei bestaan uit die gooi van ’n skei van agter ’n sperstreep oor ’n bepaalde afstand in die rigting van en na ’n pen wat in ’n sandput staan. Die skei word aan die handvatsel gevat en verby die been geswaai en onderhands vorentoe gegooi.
Verskillende ouderdomsgroepe gooi vanaf verskillende sperstrepe oor verskillende afstande na die verste pen. Veterane mans (50 tot 65 jaar en ouer) gooi gewoonlik minstens 13 meter in die meeste kompetisies.
Wedstryde duur drie skofte of ‘n maksimum van 75 minute. ’n Skof bestaan uit 23 punte, wat behaal word uit die gesamentlike telling van penne (wat drie punte tel) en lê’s (wat een punt tel) aan die einde van ’n voltooide gooibeurt.
Uitslae:
Eerste: Witbank met 53 punte
Tweede: Belfast – 51,5
Derde: Nelspruit – 48,5
Vierde: Komatipoort – 46,5
Vyfde: Middelburg – 42
Sesde: Komatipoort – 37
Sewende: Morgenzon – 36,5.
Mpumalanga Jukskei het voorgeneem om voortaan die winterligas in Komatipoort, Mbombela en Barberton aan te bied, aangesien dit aansienlik warmer is as in ander dorpe in die streek.
Belangstellendes kan Komatipoort se voorsitter, Billy Broodryk, by 083-231-5102 of Belinda Broodryk by 084-786-0140 skakel. Oefeningtye is Maandae, Woensdae en Vrydae om 17:00.
