Tennis-jonges speel ‘n kishou by plaaslike ope
Die tweede Mpumalanga/Laeveld-tennis-ope is die afgelope naweek op die Van Riebeeck-bane beslis.
Die eerste van drie toernooie sou in Middelburg afskop, maar weens ‘n tekort aan belangstelling is dit gekanselleer. Die laaste been van die toernooi word aan die einde van Julie, óók in Middelburg, gespeel.
Na die reeks, word die spelers se posisies op Tennis Suid-Afrika se rangleer bepaal om sodoende na die Mpumalanga-proewe uitgenooi te word met die hoop om hulle provinsie te verteenwoordig.
‘n Handjievol spelers van Ermelo, Middelburg, die Laeveld en selfs Gauteng, Limpopo en Stellenbosch was Saterdag en Sondag in aksie. Die swak opkoms van dié toernooi het spelers genoop om aan ‘n hoër ouderdomskategorie deel te neem.
Taillard van Zyl het in die halfeindstryd teen Hanno Coetzee van Stellenbosch 2-6 en 3-6 verloor.
Coetzee het in die eindstryd met Tom Slabbert van KwaZulu-Natal met 4-6, 6-3 en 6-0 afgereken.
Laeveld se nommer twee gekeurde o/11-speler, Lize Oosthuizen het vir dogters
o/14 gespeel, en in die voorlaaste ronde teen die o/14-speler van Limpopo, Louise Snyman verloor. Oosthuizen het wel haar man in die eerste stel gestaan toe sy 6-2 gewen het.
Sy het in die eerste ronde teen Delouise Albert van Uplands College te staan gekom waar sy 6-1 en 6-3 as wenner afgestap het.
Snyman en Isabella Basson van Pretoria het mekaar in die finale ronde ontmoet waar Snyman
6-2 en 6-1 gewen het.
Die seuns o/18-dubbelspeltitel is deur die Laeveld se Van Zyl en Marco Knobel verower nadat hulle in die eindstryd teen Callan Kenyon en Johan Wessels met 6-3 en 6-4 afgereken het.


































