Van rugbyspeler tot afrigter
RW Kember het in September 2014 sy laaste wedstryd vir die Steval Pumas teen die OP Kings op Mbombela Stadion gespeel. Sedertdien is as hy as sportdirekteur by Curro Nelspruit aangestel waar hy ook die eerste rugbyspan afrig.
Die 33-jarige het in 70 wedstryde vir die Pumas uitgedraf en besluit om na 12 jaar sy rugbyskoene op te hang, as gevolg van ‘n rugbesering waarmee hy reeds twee jaar gesukkel het.
“Die dokters het my aangeraai dat mits ek ‘n operasie wil vryspring, dit beter sal wees as om finaal op te hou rugby speel. Ek sou graag nog ‘n jaar oorsee wou gaan, maar dit was ‘n lewensbesluit wat ek moes neem. Ek kon nie die geleentheid by Curro deur my vingers laat glip nie en ek geniet die afrigting baie.”
Kember het in 2001 by HTS Daniel Pienaar gematrikuleer waar hy daarna vir die Sharks se o/19- en o/21-spanne gespeel het. Middel-2004 het hy die geleentheid gekry om vir die Partenope Rugbyklub in Italië uit te draf. “Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Ek het bevriend geraak met ‘n Argentynse en Kiwi-rugbyspeler en het tot vandag toe nog kontak met hulle.”
Lees ook: Pumas, julle is ongelooflik!
Na sy kontrak van 14 maande het hy teruggekeer Port Elizabeth toe waar hy vir die Nelson Mandela Metropoliaanse Universiteit en ook vir die Might Elephants, vandag bekend as die Kings, gespeel het.
Hy het sy Superrugby-debuut vir die Leeus teen die Cheetahs in 2007 in Bloemfontein gemaak. Tussen 2009 en 2011 het Kember Potchefstroom toe verhuis waar hy ook deel van die Luiperds se groep was.
Daar het hy ook die ongelooflike geleentheid gehad om deel van die Royal Bafikeng-span te wees wat in 2009 teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het. “Ek het lekker gebly daar, maar as ek nou deur die dorpie ry, dan is ek nie spyt dat ek het die skuif Pumas toe gemaak het nie.
“My Superrugby-debuut en om deel van die groep te gewees het wat teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het, was twee goue oomblikke in my loopbaan.”
Die agtsteman het in 2012 by die Pumas aangesluit toe Witbank nog hul tuisgronde was. Kember was een van die Pumas se uitblinkers in 2013 in ‘n wedstryd teen die Kings, wat daardie jaar ook Super 15 gespeel het. Nie net het hy ‘n bonuspunt- en die wendrie gedruk nie, maar óók in daardie kragmeting ‘n driekuns behaal.
Lees ook: Super EP Kings defeated by Steval Pumas
Oor die Pumas se aanloop tot die Curriebeker Premierliga, het hy gesê dat dit ‘n jong groep spelers is wat stadig begin het. “Die span het baie as ‘n eenheid gegroei sedert die aanvangs van die seisoen en is nou baie goed op dreef. Ek wens hulle alle sterkte toe.”
