Local sportSport

Jong rugbysterre kry hulle Puma-truie

Drie boorlinge van Komatipoort is in die o/18 Coca-Cola Cravenweek ingesluit wat Maandag op Kearsney College se rugbyvelde in Durban afskop.

Hoërskool Nelspruit (NHS) se Riaz Adebayo en Jaco Joubert (albei gr. 12) en Stephan van der Bank (gr. 11) het gister op ‘n oefenkamp na een van die land se grootste rugbytoernooie vertrek. Al drie die manne draf ook vir hulle skool se eerste rugbyspan uit.

Die Pumas speel Maandag om 11:55 in hulle eerste wedstryd teen die Griffons.

Jáo Christovam, ‘n voormalige leerder van Komatipoort Akademie en Francois Esselen van Malalane is vir die o/18 Puma-Stedelikespan gekies.

Adebayo word as die stil en nederige onderhoofseun van NHS gesien en is ook ‘n leier in die koshuis. Hy vertel dat hy moes leer om sy tyd beter te bestuur toe rugby vir hom ernstig begin raak het en dit met sy akademie ingemeng het.

“Ek was nie vir die o/16 Grant Khomo-week gekies nie, en dit het my laat besef dat daar nog baie harde werk vir my voorlê. Met die amptelike oorhandiging van ons truie was ek baie opgewonde. Dit het my laat terugdink aan almal wat my ondersteun het en al die harde oefening om tot hier te gevorder het.”

Adebayo trek die nommer 12-trui oor sy kop en is een van sy span se uitblinkers in die agterlyn.

Die Universiteit van die Vrystaat het vir hom ‘n rugbybeurs aangebied en hy is voorlopig vir medies gekeur. Hy wil graag sy studies suksesvol voltooi en droom om eendag vir die Springbokke uit te draf.

Die skrumskakel, Joubert, ook een van die prefekte by NHS en van sy koshuis, het in Komatipoort op ‘n plaas grootgeword. “Ek is mal daaroor om buite te wees. Ek geniet dit om saam met my vriende te kuier en rugby was maar nog altyd my passie.”

Aan die anderkant, is dit nie vir hom ‘n kopseer om ‘n gebalanseerd leefstyl tussen akademie en sport te handhaaf nie, aangesien daar meer as genoeg tyd is om alles te doen.

Joubert was verlede jaar vir die o/18 Akademie-span gekies. Hy sê die verskil tussen skole- en provinsiale wedstryde is duidelik hier te bespeur.

Joubert het dit ook geniet om vir die Pumas 7’s te speel. “Ek kan die veld vol speel op die posisie en ek kan slim besluite maak.”

Dié skrummie verkies die posisie omdat hy dan in beheer van die spel voel. “Ek moet besluit hoe ek die bal moet versprei en wat volgende gedoen moet word. Ek is ook in beheer daarvan om die verdedigingslyne in plek te kry, wat baie belangrik is.”

Sy plan is om volgende jaar BCom ekonomie en internasionale handel aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus, te gaan studeer. Sou ‘n agent hom opraap, mag sy planne effens rondgeskommel word.

Die jongman het sy oog op ‘n plek in die SA-skolespan wat na afloop van die Cravenweek aangewys word en van daar af sal hy graag vir ‘n provinsisale span wil uitdraf.

Van der Bank is in 2011 vir die Pumas se o/13 Cravenweekspan gekies en het ook vir die Laeveld-span gespeel. ‘n Jaar later was hy ook deel van die o/13 Pumas 7’s.

In 2015 word hy vir sy provinsie se o/16 Grand Khomo-week gekies en het ook daardie jaar 7’s gespeel.

Die Steval/KMIA Rhinos het uitstekend in die Tuks-reeks gevaar waar hulle in die eindstryd teen die Wit Bulle van Hoërskool Monument vasgeval het.

In die halfeindstryd teen die manne van Boksburg, EG Jansen, was Van der Bank se skopskoen goud werd toe hy in die doodsnikke van die wedstryd ‘n strafskop deur die pale geslaag het. Daardie skop sal nog lank onthou word.

Dié losskakel is blitsvinnig en het ‘n bedrieglike systappie aan hom.

Nie net blink hy in rugby uit nie, maar doen ook goed met ‘n spies in sy hand in die atletiekseisoen.

Rugbyaanhangers kan die Cravenweek-aksie daagliks op die kassie volg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button