Local sportSport

Innibos-fietsryfees ‘n eerste, maar beslis nie ‘n laaste

Laeveld se gunstelinge het getel onder die topryers tydens die drie-dag reeks, eendag-uitdaging en padwedren.

Talle groot name in fietsrykringe het aan die heel eerste Innibos-fietsryfees deelgeneem.

Die bergfietsry-gedeeltes het by Penryn College plaasgevind en die padwedren het by Mbombela Stadion begin.

Die aksie het verlede Donderdag met ‘n driedag-bergfietsreeks afgeskop waar ryers sowat 50 kilometer per dag afgelê het.

Onder die mans kon John Matthews en Francois Brenkman ‘n algehele eerste plek in ‘n tyd van 7:29:01 behaal.

Zander Bester en Emile Fourie moes met ‘n tweede plek tevrede wees nadat hulle die voorlopers van die eerste twee dae was. Op die laaste dag het hulle egter tegniese probleme gehad en in 4:27:28 klaargemaak.

Duncan Roux en Dirk van Wyk kon ‘n algehele derde plek behaal met ‘n tyd van 9:03:44.

Onder die gemengde spanne was Rimari Sutton en Gustav Rohde die wenners in ‘n tyd van 7:20:22.

Die vroue se Mariske Mclean en Lelanie Loubser, het ‘n algehele eerste plek in 7:47:16 verower nadat hulle elke dag eerste oor die eindstreep gejaag het.

Die solo-ryer, Kirsten Gillespie, het oor die drie dae die voortou geneem. Sy kon met ‘n tyd van 7:01:58 die eerste plek op die podium inneem.

Richard Sutton het met 7:33:12 ‘n tweede plek behaal en Eric Kobrinowski, was derde.

Die eendag-ren, wat ook by Penryn plaasgevind het, het Saterdag heelwat meer ryers gelok. Max Knox, wat ook vroeër vanjaar die Sabie Experience gewen het, het weer naam gemaak toe hy die 46 kilometer met ‘n tyd van 1:44:45 gewen het. Hy is deur Heine Engelbrecht in die tweede plek met 1:44:48, gevolg.

Die vinnigste junior, Liam de Klerk, se 1:54:43 het aan hom die algehele derde plek besorg. Die elite-ryer, Herman Fouché was algeheel vierde in 2:00:22.

Die veterane het egter nie op hulle louere gerus nie. Marco Lambrechts se 2:02:00 is gevolg deur Martijn Mellaart in 2:02:17 en Bertus van der Linde met 2:02:33.

Die jongeling, Franco Pelser se 2:03:04 het aan hom die vierde plek besorg en het algeheel agtste geëindig.

Een van die Laeveld se gunstelingryers, Dalene van der Leek was die eerste vrou en algeheel negende met 2:05:34.

Dirk Lourens, die eerste sub-veteraan se 2:06:01 het die top-10 ryers afgerond.

In die 15-kilometer het die agt-jarige Leroux van der Leek sy ma Dalene nagedoen en in ‘n tyd van 51:41 die ope- manskategorie gewen.

Die 11-jarige Thomas Williams was op sy hakke met 52:47.

Trinity Pulvenis (15) was die eerste vrou oor die eindstreep in ‘n tyd van 1:06:20. Haar 12-jarige sussie Skye kon 30 minute later die tweede plek verower.

Die padfietsren, wat oor 90 kilometer gestrek het, het by die stadion begin. Siyabonga Somchiza was eerste met 2:53:25, Phillimon Sebona tweede met 2:53:26 en Jan Sebona derde met 2:53:27.

Angel Angelov was die vinnigste sub-veteraan en kon met sy tyd van 2:59:49 ook onder drie ure oor die eindstreep jaag.

Van der Leek wat ook die 45 kilometer-bergfietsren gewen het, het op die pad in 3:07:51 klaargemaak.

Ronet Human en Helene Coetzer was onderskeidelik tweede en derde met 3:32:27 en 3:36:52. Veterane Euan Orniston en Lambrechts het mekaar opdraende gegee, maar op die ou einde was dit Orniston wat eerste in 3:07:52 geëindig het.

Pierre Veldtmann en Hendria Viehweg op die tandem kon in 3:55:00 klaarmaak.

Onder dié wat die 65 kilometer aangedurf het, was Francois van der Leek (52) die vinnigste man met 2:13:49 en Jo-Mari Smith sy vroulike eweknie in 2:53:05.

  • Sien meer foto’s:
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button