Fietsryers vier fees op twee wiele by Innibos
Dit is die eerste keer dat Innibos fietsry insluit.
Die Innibos-fietsryfees het vanjaar se gewone feestelikheid selfs verder uitgebrei. Die MTB-deel van die fietsryfees het by Penryn plaasgevind. Dit is die eerste keer dat Innibos fietsry insluit, maar hopelik nie die laaste nie.
Die pret het Donderdag 30 Junie met ‘n driedag- reeks afgeskop waartydens ryers daagliks in spanne en individueel sowat 50 kilometers moes aflê.
Onder die manne kon John Matthews en Francois Brenkman ‘n algehele eerste plek in ‘n tyd van 7:29:01 behaal. Zander Bester en Emile Fourie moes met ‘n tweede plek tevrede wees nadat hulle eerste was tydens die eerste twee bene. Op die derde dag het hulle egter probleme ondervind en in ‘n totale tyd van 4:27:28 klaargemaak.
Duncan Roux en Dirk van Wyk kon ‘n algehele derde plek behaal met hulle tyd van 9:03:44. Onder die gemengde spanne was Rimari Sutton en Gustav Rohde die oorwinnaars in ‘n tyd van 7:20:22.
Onder die vroue was Mariske Mclean en Lelanie Loubser deurgaans oor al drie bene eerste om in ‘n totale tyd van 7:47:16 te eindig. Net vier ryers het aan die solo-kompetisie deelgeneem, maar nie een van hulle kon dit voltooi nie.
Hulle was net die eerste dag kort op mekaar se hakke, met minder as 10 minute tussen die drie plekke. Kirsten Gillespie was deurgaans die voorste soloryer. Sy kon met ‘n tyd van 7:01:58 die eerste plek op die podium verower.
Richard Sutton moes met 7:33:12 en ‘n tweede plek tevrede wees, en Eric Kobrinowski se 7:46:46 het hom ‘n derde plek besorg.
Die eendagren op Saterdag het heelwat meer mense gelok. Max Knox was die vinnigste elite man oor die 46 kilometers met ‘n tyd van 1:44:45. Hy is deur Heine Engelbrecht gevolg wat tweede was met 1:44:48. Die vinnigste junior, Liam de Klerk, se 1:54:43 het aan hom die algehele derde plek besorg. Herman Fouché was algeheel vierde en die derde elite man met 2:00:22.
Die veterane het egter nie op hulle laat wag nie. Marco Lambrechts se 2:02:00 is gevolg deur Martijn Mellaart in 2:02:17 en Bertus van der Linde met 2:02:33.
Franco Pelser 2:03:04 het hom die vierde vinnigste elite man gemaak en was die algeheel agste op die dag. Dalene van der Leek was die eerste vrou en algeheel negende met 2:05:34. Dirk Lourens die eerste sub-veteraan se 2:06:01 het die top-10 ryers afgerond.
Onder die 15 kilometers het die agt-jarige Leroux van der Leek sy ma Dalene nagedoen en in ‘n tyd van 51:41 die ope-manskategorie gewen. Die 11-jarige Thomas Williams was op sy hakke met 52:47.
Trinity Pulvenis (15) was die eerste vrou oor die eindstreep in ‘n tyd van 1:06:20. Haar 12-jarige sussie, Skye, kon 30 minute later die tweede plek opeis.
Sondag was die eerste drie deelnemers ‘n paar sekondes oor die 90 kilometers uitmekaar. Siyabonga Somchiza was eerste met 2:53:25, Phillimon Sebona tweede met 2:53:26 en Jan Sebona derde met 2:53:27.
Angel Angelov was die vinnigste sub-veteraan en kon met sy tyd van 2:59:49 ook onder drie ure klaarmaak. Dalene van der Leek was weer die vinnigste vrou. Sy het met ‘n tyd van 3:07:51 gespog.
Ronet Human en Helene Coetzer was onderskeidelik tweede en derde met 3:32:27 en 3:36:52. Veterane Euan Orniston en Marco Lambrechts het mekaar opdraande gegee. Euan is die eerste plek toegeken met 3:07:52, ‘n sekonde voor sy maat.
Pierre Veldtmann en Hendria Viehweg was die enigste tandem op die dag, en kon ‘n tyd van 3:55:00 behaal. Onder dié wat die 65 kilometers aangedurf het, was Francois van der Leek (52) die vinnigste man met 2:13:49 en Jo-Mari Smith sy vroulike eweknie met 2:53:05.















