Kambaku-gholftoernooi lok van die omgewing se beste spelers
Verlede week het van die omgewing se beste spelers die donker, wind en koue weer trotseer tydens die jaarlikse Kambaku Gholftoernooi.
Vanjaar se Kambaku-gholftoernooi in Komatipoort het vanuit die staanspoor ‘n groot uitdaging vir deelnemers gebied. Die spel het verlede Dinsdag om 18:00 in die donker afgeskop en dit was ‘n oorwinning om net die bal raakgeslaan te kry. Spesiale gloeiende balle het egter dit effe vergemaklik en spelers het groot pret gehad.
Die baan het soos ‘n Kersfeestoneel gelyk met gekleurde liggies wat die pad na setperke aangedui het en spanne van ses het saam gespeel.
Chris Coetzee was die wenner van hierdie prettige gholfuitdaging met ‘n totaal van 22 punte.
Woensdagoggend het die toernooi amptelik begin met ‘n vierbal en spelers van oraloor het deelgeneem, insluitend sanger Dewald Dippenaar en gewese Springbok, Vleis Visagie.
Elke dag is afgesluit met ‘n prysuitdeling en die toernooikomitee Jacq Nel, Nardus Broodryk, Rose Powell, Danny Cato, en Ester en Antonie Britz, het gesorg dat als glad verloop.
Die dag se wenners was:
• Cas Botha, Piet van Dyk, Piet Maritz, Janette Maritz met 81 punte
• Tweede: Harry van Dyk, Francis Smith, Jakkals Steyn, Ruan Steyn met 80 punte
• Derde: Jan Steyn, Dewald Dippenaar, Michael Coomans, Heinrich Coomans met 80 punte.
Die volgende dag het spelers toernooipunte begin bymekaar maak en het die volgende drie dae gewedywer om te bepaal wie Saterdag as kampioen gekroon word. Die formaat was individuele Stableford.
Die bewolkte weer en koue wind het bygedra tot die baan se moeilikheidsgraad en strawwe kompetisie het gesorg dat verdedigende kampioen Jaco Botha sy storie goed moes ken om sy titel te kon behou.
Dag 2-uitslae:
• Wenner: Pietman Maritz met 50 toernooipunte
• Tweede: Jacot Guillarmod met 48
• Derde: Ezielle Basson met 46
• Mans langste dryfhou: Mauritz Mostert
• Dames langste dryfhou: Ginnie Schoombie.
Uitslae – Vrydag:
• Wenner: Mauritz Mostert met 39 punte
• Tweede en mans langste dryfhou: Jaco Botha met 38
• Derde: Danny Cato met 38
• Dames langste dryfhou: Karien Greyvenstein.
Uitslae – Saterdag:
• Wenner: Rose Powell
• Tweede en mans langste dryfhou: Danny Cato
• Derde: Cas Botha
• Dames langste dryfhou: Lizette Barnard
• Rose Powell het as die wenner van die toernooi met 138 toernooipunte uitgetree
• Jaco Botha was tweede met 130 punte
• Danny Cato derde met 128.
Die organiseerders wil graag al die borge bedank vir hul bydraes, asook Harry van Dyk wat gesorg het dat die baan in ‘n puik toestand is.
Sien meer foto’s hier.


