Impalas wen opwindende halfeindstryd
The Impalas het verlede Saterdag Witrivier behoorlik platgeloop met 'n wentelling van 48-17 in die halfeindstryd van die Ehlanzeni Burgemeestersliga..
Die Impalas se oorwinning teen Witrivier Saterdag gee die span ‘n kans gegee om vanmiddag om 16:00 Barberton die stryd om die trofee aan te sê.
Alhoewel Witrivier die tuisspan met ‘n sterk span getroef het, het die Impalas weereens bewys hoekom hulle die afgelope drie jaar die halfeindstryd en nou ook hul derde eindstryd, gehaal het.
Impala Chris Botha het vroeg na die afskop met ‘n skepskop van net binne hul helfte geslaag en kort daarna nog drie punte aangeteken met ‘n strafskop.
Witrivier het gesukkel om met die Impalas se vinnige speltempo by te hou en die tuisspan het die drieë ingeryg. Komati se skakelpaar was aan die voortou en die res van die span het goed daarby aangesluit sodat die volgepakte skare kort-kort op hul voete was.
Witrivier het in die tweede helfte hard probeer terugveg, maar kon nie daarin slaag om hul agterstand in te haal nie.
Impala-vleuel Marcian Minnaar het vir ‘n briljante drie gesorg nadat hy die bal netjies onderskep het en sonder enige teenstand byna die hele lengte van die veld gehardloop het om die bal agter die pale te plant.
Pieter Engels en Tiaan Fourie is as voorspelers van die wedstryd gekies en Tiaan Nel en Chris Botha as agterspelers.
Die Impalas reis Saterdagmiddag na Barberton vir die eindstryd en hoop om soveel moontlik van hul ondersteuners saam te neem. Hulle moedig al hul getroue ondersteuners aan om die wedstryd by te woon en hoop om borge te kry vir busvervoer vir spelers en ondersteuners wat nie self vervoer soontoe het nie.
Vir meer inligting of om te help met ‘n borgskap, skakel voorsitter Ben Jordaan by 083-600-1722 of stuur ‘n e-pos na cdippies@gmail.com of ben@phfuel.co.za.
Sien meer foto’s hier.
