Local sportSport

Barberton vermorsel Impalas in eindstryd

Barberton Rugbyklub het Saterdag op hulle tuisveld Komatipoort se Impalas behoorlik in die eindstryd van die Burgermeesterliga afgeransel.

Barberton is as wenners van die liga gekroon nadat hulle met 36-5 gewen het.

Albei spanne was uit die staanspoor vasbeslote om te wen.

Die Impalas het die eerste punte op die telbord aangeteken nadat hulle vir hul eerste en enigste drie oorgeduik het.

Lees ook: Barberton tops teen Nelspruit in klubrugby-liga

Barberton het daarna teruggeveg om aan hulle kant van die veld te kom, maar is ‘n hele paar keer deur hul teëstanders in hul skoene gestuit.

Die besoekers het gepoog om nog ‘n paar punte aan te teken deur die bal deur die pale te laat seil, maar was sonder sukses.

Barberton het op ‘n stadium deur die Impalas se verdediging gebreek, maar is ingehaal en platgetrek.

Die tuisspan het uiteindelik – na ‘n rukkie se boer by die doellyn – deur die besoekers se verdediging gebreek om teen rustyd met 7-5 terug kleedkamers toe te gaan.

Die groen-en-geel truie het daarna met nuwe energie op die veld gedraf en vinnig ‘n drie gedruk. Daarna het die tuisspan die drieë ingeryg, met twee van die vier wat verdoel is.

Lees ook: Barberton se eerstes haak die knoop deur in die Laeveld-liga

Die spelers het blitsvinnig deur die gapings geglip.

Hulle het op ‘n stadium die bal onderskep en weer veld gewen, maar hul ondersteuners se blydskap was van korte duur.

Komatipoort se spelers het al hoe harder geveg om ‘n drie voor die eindfluitjie te druk maar Barberton se verdediging was net te sterk.

Die eindfluitjie het toe na ‘n koud en winderige wedstryd geblaas met Barberton wat as wenners van die veld afgestap het.

Dit was ‘n uitstekende afsluiting vir die span se suksesvolle seisoen, aangesien hulle ook ver voor op die liga se punteleer, met 43 punte, was.
Spanne in die liga gaan voortaan ook in ‘n oorkruis-uitklopreeks meeding, met die wenners van die Hoë- en Laeveld wat vir ‘n kampioentrofee sal speel.

Die kampioen sal daarna teen die Premierspan wat sesde op die punteleer lê, vir ‘n plek in die hoër-liga in volgende jaar se reeks, speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button