Local sportSport

Uitdagende wedstryd blus nie Impalas se veggees

Die Impalas het verlede Saterdag die seisoen in die tweede plek afgesluit na 'n verwoede Ehlanzeni Burgemeestersliga-eindstryd teen Barberton op die myndorpie se rugbyveld.

Ondersteuners en die Impalas se gelukbringer-bokkie het met groot entoesiasme hul span toegejuig toe hulle op die veld gedraf het. Hulle het die spelers met luide krete en Meksikaanse golwe vanaf die paviljoen aangemoedig.

Die spelers van albei spanne was uit die staanspoor vasbeslote om te wen en die Impalas kon daarin slaag om die eerste punte met ‘n vyfpunter aan te teken.

Daarna het Barberton verbete teruggeveg om aan hulle kant van die veld te kom, maar is ‘n hele paar keer deur die Impalas gestuit.

Die Impalas het gepoog om nog punte aan te teken deur die bal oor die pale te laat seil, maar sonder sukses.

‘n Speler van Barberton het op ‘n stadium deur die Impalas se verdediging gebreek, maar is ingehaal en platgetrek.

Die tuisspan het uiteindelik, na ‘n rukkie se geboer agter die pale, die bal geplant. Die drie is verdoel en teen rustyd was die telling 7-5 in Barberton se guns.

Die tuisspan het met hernieude energie op die veld gedraf en kort daarna ‘n drie gedruk. Daarna het hulle die drieë ingeryg, met twee van die vier wat verdoel is.

Die spelers het blitsvinnig deur die gapings geglip en die Impalas moes hard veg om hul agterstand in te haal. Hulle het op ‘n stadium die bal onderskep en weer veld gewen, maar die ondersteuners se blydskap was van korte duur.

Komatipoort het hard geveg om voor die eindfluitjie ‘n drie te druk, maar Barberton se verdediging was net te sterk.

Die wedstryd is met ‘n eindtelling van 36-5 deur die tuisspan gewen.

Spanne in die liga gaan voortaan ook in ‘n oorkruis-uitklopreeks meeding, met die wenners van die Hoë- en Laeveld wat vir ‘n kampioentrofee sal speel. Die wenner sal daarna teen die nommerses-geplaasde Premierliga-span vir ‘n plek in die hoër liga in volgende jaar se reeks speel.

Die Impala Rugbyklub wil graag al hul getroue ondersteuners en borge, wat bygedra het tot ‘n goeie seisoen, bedank.

Lees meer oor die seisoen en plaaslike spanne se wedstryde:

District’s toughest rugby teams clash for trophy (season results summary)

Impalas wen opwindende halfeindstryd

Zulu’s match-winning try a nasty surprise for WRRC

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button